
Suid-Afrika het slegs 3 180 geregistreerde veeartse, wat baie min is om die land te diens. Daar word veral ’n groot tekort ervaar in dié kundiges wat diereproduksie betref. Veeartse wat in diereproduksie spesialiseer kom hoofsaaklik uit die manlike groep, terwyl vroulike veeartse eerder met honde, katte en perde wil werk, sê die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR).
Die SAVR, wat sy 2015/’16-jaarverslag aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye voorgelê het, het aangedui dat die land teen einde Maart 5 961 geregistreerde veeartse en para-veterinêre beroepskundiges gehad het.
Ingesluit by die 3 180 geregistreerde veeartse, is 19 met beperkte registrasie. Die land het ook 72 spesialis-veeartse, 998 tegnici vir dieregesondheid, 18 laboratoriumtegnoloë, 622 veterinêre verpleegsters en 287 veterinêre tegnoloë. Altesaam 625 mense het ook vanweë die werkservaring wat hulle opgedoen het, goedkeuring by die raad gekry om sekere veterinêre dienste te lewer.
Tegnici
Dr. Clive Marwick, uitvoerende lid van die SAVR, sê hoewel daar in die geldjaar ’n styging in die hoeveelheid geregistreerde veeartse en spesialis-veeartse in die land was, was daar ’n afname in tegnici vir dieregesondheid. “Dit is die probleem in ons stelsel vandag. Ons produseer baie tegnici vir dieregesondheid, maar daar is nie werk vir hulle nie.”
Die gevolg is dat baie nie geld vir herregistrasie het nie, wat beteken dat hulle uit die stelsel val. Marwick sê die private sektor sal hierdie tegnici graag wil gebruik en staatsdepartemente kan hulle ook inspan om as dierewerkers in hulle gemeenskap op te tree.
“Ons moet net die wil het om hulle te gebruik.” Hy het ook uitgewys dat ’n kursus in die toekoms ontwikkel gaan word om laboratoriumtegnoloë vir diere in Suid-Afrika op te lei. Tans word hulle net in die buiteland opgelei.