Tekort aan geskikte mentors en gewillige strategiese vennote bemoeilik die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se pogings om sukkelende grondhervormingsprojekte om te keer.
Alle plase van die begunstigdes van grondhervorming gaan deur ’n herkapitaliseringsproses met die nodige ondersteuning van die Regering om te verseker dat hulle dié keer suksesvol sal wees.
Dié stap was genoodsaak toe meer as 90% van die plase wat ná 1994 aan swart begunstigdes oorgedra was, in die moeilikheid beland het. Mnr. Vusi Mahlangu, adjunkdirekteur- generaal vir grondhervorming, het aan die Parlement se portefeuljekomitee wat met grondsake belas is, gesê daar is geen vertroue tussen die begunstigdes van grondhervorming, hul mentors en strategiese vennote nie.
Die departement vind dit ook moeilik om die regte mense te kry om hulp aan die begunstigdes te verleen. Die strategiese vennote wag ook eers op geld van die Regering voor hulle hand bysit. Boonop veroorsaak die begunstigdes vertragings met die implementering van projekte omdat hul persoonlike behoeftes voorrang geniet.
In talle gevalle lei dit tot dispute met die mentors en die strategiese vennote. Hoewel die departement ’n databasis van mentors het, is die meeste van hulle boere wat nie suksesvol op hul eie plase geboer het nie.
Mnr. Stone Sizani, voorsitter van die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê die departement se dilemma lê by sy vennootskappe. Minister Gugile Nkwinti het aangedui dat die georganiseerde landbou gewillig is om te help.
Sterker werksverhouding
Sizani het gesê die direkteur-generaal se werksverhouding met die boereverenigings sal sterker moet word. Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, het ná die vergadering aan Landbouweekblad gesê dat sy organisasie reeds jare terug, in 2005, sy bereidwilligheid verklaar het om met mentorskap te help, maar niks het daarvan gekom nie.
“Ons het aangebied om deur die georganiseerde landbou mense as mentors aan te bied. Die boereverenigings weet presies wie die vermoë het om ’n mentor te wees.
“Die beste boere is nie noodwendig die beste mentors nie. Jy moet ’n hart hê daarvoor, jy moet die onderwyser ook wees.” De Jager het gesê hulle het ’n model voorgestel waarmee die begunstigdes se buurman hulle help.
Wat die gesoute boer die dag op sy plaas doen, moet die begunstigde ook doen en so leer hulle. Maar die departement het nie daaraan gebyt nie.
21 Mei 2012