
Tussen Limpopo se landboudepartement en die departement van natuurbewaring en toerisme is die afgelope ses jaar meer as R278 miljoen aan finansiële bystand vir die Tshivase-teelandgoed in Venda bestee.
Die Makgoba-teelandgoed, voorheen Sapeko, naby Tzaneen, het sedert 2010 meer as R53 miljoen se bystand uit staatskoffers ontvang.
Só het die provinsie se LUR vir landbou, me. Joyce Matshoge, gereageer op vrae van die DA leier in Limpopo, mnr. Jacques Smalle, in die provinsiale wetgewer.
Die Tshivase-teeplantasies is op die grond van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en die Makgoba-grond behoort aan die departement van openbare werke.
Smalle meen dit is 'n vermorsing van belastingeld en dat daar niks is om te wys vir dié besteding nie, maar Agri Limpopo se hoof uitvoerende beampte, mnr. Willem van Jaarsveld, sê dit is nie heeltemal waar nie. "Top-gehalte tee word op Tshivase verbou. Ek is nogal kieskeurig as dit by tee kom en ek verkies die Tshivase-produk bo die meeste ingevoerde tee," sê hy.
Van Jaarsveld sê hy kan hom nie uitlaat oor die winsgewendheid van die projek nie. "Dit mag wees dat die projek kunsmatig deur staatsgeld aan die lewe gehou word."
Hy wys daarop dat dit baie moeilik is om tee winsgewend in Suid-Afrika te produseer. Hoë arbeidkoste maak dit byna onmoontlik.
Van Jaarsveld meen dit is waarskynlik waarom die teeplantasies op die Makgoba-grond plek gaan maak vir avokadoboorde. Hy sê hoewel die teeplantasies deesdae mooi onderhou word, is daar nie 'n verwerkingsaanleg op of naby die plaas nie. Hy lê die blaam hiervoor voor die deur van die eertydse grondeisekommissaris van Limpopo, mnr. Mashile Mokono.
Toe die Makgoba-stam hierdie grond geëis het, het Mokono aangedring om net die grond te koop en nie die boerdery as 'n geheel nie. Die verkopers het dus alle toerusting, implemente en die verwerkingsaanleg verwyder.
"Die arme Makgobas se landboudrome was 'n doodgebore baba. Sonder 'n verwerkingsaanleg of toerusting kon hulle niks met die tee doen nie. Dit is waarskynlik hoekom die staat hulle steeds aan die lewe moet hou."
Die ou Sapeko-tee-aanleg is intussen in Kenia opgerig waar dit deel vorm van 'n baie winsgewende teeplaas.
Hoewel nog baie onsekerhede oor die toekoms van die Makgoba-teeplantasies heers, wil dit voorkom om 'n private boerdery die grond van die plantasies by die stam gaan huur en avokado's gaan plant.