
Tegnologie gaan ’n toenemende invloed op die landbou hê, waaronder genetika in gewasverbouing en veeteelt, wat groter produksie moontlik maak, sê mnr. Loffie Brandt, hoof van besigheidsontwikkeling van Absa AgriBesigheid Hy het deelnemers op ’n Drakensberger-inligtingsdag van Fox in the Hills Drakensbergers by Potchefstroom toegespreek.
Die groep bestaan uit die Black Hills-stoetery van mnre. Jean van der Merwe en Willie Landman van Potchefstroom en Black Fox-stoetery van dr. Johan Fourie van Klerskdorp, wat hul bemarking gesamentlik onder Fox in the Hills doen.
Boere moet hul so posisioneer om by die meganeigings in die landbou aan te pas, waaronder die groeiende wêreldbevolking, verstedeliking, méér arm én ryk mense en klimaatverandering. Dit sal aanpassings verg. “Dit is nie noodwendig altyd ’n bedreiging nie, maar bied ook die geleentheid om die uitdagings in geleenthede te verander,” het hy gesê.
Waar gaan die kos vandaan kom?
Die vraag is waar al die kos vandaan moet kom. Boere moet dus meer produkte op bestaande grond produseer deur meer doeltreffend te boer, het Brandt gesê. Volgens ’n studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het gewasdoeltreffendheid byvoorbeeld in Ghana VSA$592 per akker waar boere slegs plaaslike saad gesaai het.
Dit het gegroei tot $632 waar hulle verbeterde saad gebruik het, tot $688 dollar waar hulle verbeterde saad plus kunsmis gebruik het en tot $1 200 dollar waar hulle verbeterde saad, kunsmis én plaagdoder benut het.
In Suid-Afrika het sommige kleinboere in die Oos-Kaap onder Graan SA se leiding hul mielieproduksie van so min as 1 ton/ha tot soveel as 10 ton/ha onder droëlandverbouing verhoog.