
Die opbloei van tegnologiese oplossings vir boerdery en die landbou bied geleenthede om jong mense na die bedryf te lok, het dr. Ilse Trautmann, hoof van navorsing in die Wes-Kaapse departement van landbou, by die tweejaarlikse internasionale bioberokingsimposium buite Stellenbosch gesê.
“Ek glo die nuwe en opwindende tegnologie wat vir die landbou ontwikkel word, kan jong mense in die landbou laat belangstel. Maar onthou, tegnologie maak dinge moontlik, maar mense laat dinge gebeur. Ons moet aanhou om in jong mense te belê en hul vaardighede te ontwikkel sodat daar ’n volhoubare vloei van jong mense na die bedryf is.”
Trautmann beskou mense as een van die agt bene waarop volhoubare landbou rus. Dit sluit ook die bewaring van die produktiwiteit van landbougrond en die bevordering en verbetering van vennootskappe bo en onder die grond in. Die vierde been is om te verseker dat navorsingsinligting boere bereik. “Ons het beperkte geld en hulpbronne vir navorsing en moet dus verseker dat elke navorsingsrand in ’n inligtingsrand vir boere omskep word.”
Volgens haar is die proefbesoeke (“walk and talks”) en groen en bruintoere wat gereeld op die departement se navorsingsplase, proefpersele op private plase en boereproewe gedoen word, praktiese maniere om die navorsingsboodskap oor te dra.
Aangesien die Wes-Kaap die uitwerking van klimaatsverandering gaan voel, het die Wes-Kaapse departement van landbou en hul vennote vroeër vanjaar “SmartAgri” ontwikkel. Dis ’n plan om die landbou in die Wes-Kaap beter opgewasse te maak teen die aanslae van klimaatsverandering en te help met risikobestuur. “Omdat ons die plan in samewerking met boere ontwikkel het, neem dit ons na ’n hoër vlak van gereedheid.”
Volhoubaarheid word ook bevorder deur webgebaseerde hulpmiddels of toepassings wat boere kan gebruik om besluitneming te ondersteun alles op die departement se webwerf, www.elsenburg.com.
Die bydrae van nuwe tegnologie en produksiepraktyke, soos bewaringsboerdery, om volhoubaarheid in die landbou te verseker, hou vir kleingraan-, rooibos- en aartappelboere miljoene rande se voordele in terme van ’n meer stabiele inkomste en kostebesparing in.
Trautmann het aan die plaaslike en internasionale afgevaardigdes by die simposium gesê waterbestuur, veral om ’n balans tussen die behoeftes van landbou en stedelike gebruikers te kry, stel hoë eise aan besluitnemers. Haar departement het juis die Fruitlook-program ontwikkel om vrugteboere te help om besproeiing met die hulp van satelliettegnologie te doen.