
’n Tekort aan Etrophine HCI, beter bekend as M99 (die middel wat veeartse gebruik om groter wildsoorte te verdoof wanneer met hulle gewerk word), het wildboere en veeartse met die hande in die hare.
Dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildbedryf SA, sê die tekort tref die wildbedryf in ’n tyd wanneer boere dit die minste kan bekostig. Dit is in die koeler maande vanaf Maart tot Oktober wat wild in Suid-Afrika gekoop, verkoop en verskuif word. Talle van dié diere kan slegs onder verdowing opgelaai word.
Die grootste verskaffer van M99 is die dieregesondheidsmaatskappy Novartis. Die vervaardiging daarvan word deur die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) gereguleer. Oberem sê hy het al verskeie navrae gedoen en kan nie presies vasstel waar die probleem lê nie.
Soos hy dit verstaan, wag die vervaardigers op ’n permit wat deur die MBR uitgereik moet word.
Daarom het hy nou aan die raad ’n brief geskryf en gevra dat hulle die “klein” risiko wat die middel vir diere inhou, opweeg teen die “groot” nadeel wat die tekort daarvan vir die wildbedryf beteken. Die risiko waarna hy verwys, hou verband met die hoë giftigheid van die middel as dit verkeerd gebruik word.
Dr. Alice Sigobodhla, waarnemende direkteur van medisyne-evaluering en navorsing by die MBR, sê die probleem lê nie by die raad nie.
Sy sê die vervaardiger het aansoek gedoen om ’n wysiging aan die vervaardigingsproses te maak, maar dat daar nie tans enige permit van haar kant af is waarop die vervaardiger wag nie. “Praat met Novartis, hulle weet wat aangaan,” het sy gesê.
Novartis het in reaksie op Landbouweekblad se navrae ’n verklaring uitgereik waarin hy erken hy het ’n probleem met die verskaffing van M99. “Ons werk nou saam met die MBR om die probleem op te los, maar kan in hierdie stadium geen aanduiding gee van wanneer voorraad beskikbaar gaan wees nie.” Intussen ly die wildbedryf groot skade.
Mnr. Jossie Coetzee van Mpatamacha, een van Suid-Afrika se grootste wildvang- en vervoermaatskappye, sê die verliese beloop miljoene rande. Mpatamacha bied maandeliks ook wildveilings aan en Coetzee sê talle boere kan nou nie hul wild na die veilings toe bring nie.
Mnr. Riempies Victor, ’n wildbemarker van Vleissentraal, sê hoewel die M99-tekort nie ’n regstreekse impak op Vleissentraal se veilings het nie, beteken dit tog dat diere nie betyds gelewer kan word nie. “Boere wat al vroeg in die jaar diere gekoop het met die oog op die dektyd, se planne is nou deurmekaar gekrap omdat daardie diere nog nie afgelewer kon word nie,” sê hy.
Oberem waarsku dat die tekort die bedryf kan lamlê.