
Die SABBS (SA Boerboel Breeders’ Society) het sy regsgeding teen die Registrateur van die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998), die Minister van Landbou, Bosbou en Vissery en ses ander respondente wat in die Noord-Gauteng Hooggeregshof voor Regter G. Webster gedien het, gewen. Dit volg nadat die Registrateur in 2012 die registrasie van die SABBS opgeskort het sonder om hulle regstreeks daaroor in te lig.
In die uitspraak beveel Regter Webster aan dat die SABBS se registrasie herstel word en dat die eerste twee respondente vir die regskoste verantwoordelik is.
Mnr. Jakkie Erasmus, ’n raadslid van die SA Boerboeltelers (SABT) en stigterlid van die SABBS, het die uitspraak verwelkom. “Ons is bly die lang stryd is nou verby en sien daarna uit om die SA Boerboel die erkenning te gee wat dit toekom. Alle Boerboeltelers is welkom om by die SABBS aan te sluit en deel te neem aan die proses om sy grondwet te hersien,” het Erasmus aan Landbouweekblad gesê.
Volgens Erasmus het die saak in 2012 sy aanloop gehad toe die SABT meegedeel is dat hy by SA Stamboek moet registreer aangesien dié honde reeds in 1997 as landras erken is en daar vir jare wederregtelik opgetree is. Altesaam 11 telers van die ras het toe by SA Stamboek in Bloemfontein vergader en die SABBS (SA Boerboel Breeders’ Society) gestig. Twee weke nadat die aansoek ingedien is, is die SABBS van registrasiedokumente voorsien.
“Kort daarna moes die SABBS egter in die sosiale media verneem dat sy registrasie opgeskort is nadat ’n groep ander telers, waaronder die Elite Boerboel Breeders Association of South Africa (Ebbasa) Boerboel International (BI) en die Kennel Union of South Africa (Kusa) ’n beswaar ingedien het.
“Die registrateur het toe aanbeveel dat al die verenigings byeenkom om ’n nuwe grondwet op te stel. Tydens ’n byeenkoms in Junie 2012 het die registrateur egter die SABBS op aandrang van die klaers deelname aan dié verrigtinge geweier. Die klagte teen die registrasie van SABBS was egter nooit bespreek nie. Die registrateur het slegs op ’n konsultasieproses tussen die partye aangedring.
“ ’n Onafhanklike voorsitter is aangewys om binne twee weke eenheid tussen die verskillende verenigings te probeer bewerkstellig. Dit het nie gebeur nie. Nadat die SABBS druk op die registrateur uitgeoefen het, is ’n tweede vergadering in September 2012 in Pretoria byeengeroep, waarop mnr. Greg Eva van Kusa as onafhanklike voorsitter verkies is. Sy opdrag was om saam met een verteenwoordiger van elke party, die bestaande SABBS-grondwet te hersien en aan al die partye te stuur.
“Ook dit is nóóit gedoen nie en in die plek daarvan is ’n nuwe grondwet, sonder konsultasie, opgestel en aan al die partye behalwe die SABBS gestuur. Die SABBS het toe besluit is om ’n regsgeding teen die Registrateur aanhangig te maak,” het Erasmus verduidelik.