Die onttrekking van Temik, die enigste geregistreerde aldicarb-produk, maak ’n mens nie hartseer nie, hoewel dit jammer is dat misbruik ’n produk soos dié laat sneuwel het, sê dr. Gerhard Verdoorn, hoof van die Griffon Gifstof-inligtingsentrum.
Temik is ’n aalwurm- en insekdoder wat deur Bayer CropScience in SA geregistreer is en tot nou toe onder streng voorwaardes verkoop en gebruik kon word. Die onttrekking van die gifstof op 1 Junie gaan ’n terugslag wees vir sommige boere, veral aartappel-, suikerriet- en sitrusboere.
Hulle sal nou ander bestuursplanne en produkte moet inspan om Temik se leemte te vul, sê hy. Misbruik, veral deur misdaadsindikate, het daartoe gelei dat Bayer die vervaardiging daarvan in die eerste kwartaal van verlede jaar beëindig het en alle voorraad teen einde verlede jaar aan boere verkoop is.
Die maatskappy het ingestem om die registrasie op 1 Mei te onttrek. Slegs die gebruik van aldicarb wat as Temik geregistreer is, was wettig. Volgens Bayer is “vele ongeregistreerde aldicarb-formulasies in Suid-Afrika in sirkulasie”.
Onwettig die land in
Dié ongeregistreerde middels kom onwettig die land binne vanuit lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en meestal deur die oostelike en noordelike grens van Limpopo, Mpumalanga en Noordwes. By Alldays is ’n onwettige immigrant gevang met 10 000 plastiekstrooitjies vol aldicarb.
Dit word meestal aan misdaadsindikate verkoop wat dit gebruik om waghonde te vergiftig, sê Verdoorn. Daar is selfs getuienis dat lede van die SA Polisiediens en die Metropolisie dit koop, sê hy. Volgens Verdoorn is swak polisiëring en onkunde oor Wet 36 van 1947 vir die regulering van landboumiddels die oorsaak dat aldicarb ’n misdaadprobleem geword het.
“Dit is nie die enigste onwettige bedrywighede met gifstof nie. Daar is baie. Pick n Pay gaan nou aangekla word omdat hy ’n ongeregistreerde kakkerlakmiddel op die rak het. Die fout wat talle mense maak, is om te dink ’n middel wat as nie-giftig beskryf word, hoef nie geregistreer te word nie. Die wet bepaal enige produk vir plaagbestryding moet geregistreer word,” sê hy.
4 April 2012