
As alles volgens plan verloop kan wolboere voor die aanbreek van die nuwe seisoen in Augustus ’n instrument tot hul beskikking hê om hulle risiko in die vorm van ’n termynkontrak op die Johannesburgse Effektebeurs te verskans. Cape Wools doen tans die nodige aanvoorwerk.
Mnr. Louis de Beer, hoof uitvoerende beampte van Cape Wools, wat die aankondiging op die Vrystaatse NWKV-kongres gemaak het, sê die termynkontrak sal op Cape Wools se Merinowol-markaanwyser gegrond wees. “Geen wol sal fisies verhandel word nie. Dit is bloot ’n instrument hoe diegene met gevestigde belange in die wolbedryf hul risiko kan verskans deur met teenpartye (spekulante) transaksies aan te gaan.”
Bykomende likiditeit
De Beer het benadruk dat die woltermynkontrak nie dieselfde as Safex-kontrakte of rooivleiskontrakte is wat verlede jaar bekend gestel is nie, omdat ’n produk nie fisies teen die verstrykingsdatum gelewer sal word nie.
’n Soortgelyke instrument is tot die beskikking van Australiese wolprodusente. “Sodra ons die voetwerk afgehandel het, sal die kontrak op die JSE aan fondsbestuurders bekend gestel word. Dit sal bykomende likiditeit genereer en verhandeling moontlik maak.”
Ervare wolboere moet nie die finansiële instrument verwar met vorige pogings (BKB Plus-skema) wat kort na die draai van die millennium tot die beskikking van Suid-Afrikaanse wolboere was.