Mnr. Eugène Terre’Blanche se boedel is langer as ’n jaar ná sy dood ter insae in die hof, want hy het nie ’n testament gehad nie. Dié boedel wat R3 miljoen sterk is, word Vrydag (15 April) in die Ventersdorphof bespreek.
Luidens ’n berig in Beeld (15 April) word, Marthie, sy weduwee as alleenerfgenaam in die boedeldokument aangedui. Die leier van die AWB se enigste dogter, Bea, het volgens die koerant in die boedel verklaar dat sy, ingevolge die Wet op Intestate Erfreg “onvoorwaardelik afstand doen van enige reg om te erf”.
Testament was in wording
Mnr. Gerrie Basson, Terre’Blanche se regsverteenwoordiger, sê hulle was in die proses om sy testament op te stel toe hy op 3 April verlede jaar vermoor is.
Die bates in die boedel sluit die plaas Witrandjiesfontein, ter waarde van R1,6 miljoen, en ’n huis ter waarde van R400 000 op Ventersdorp in. Sy wapens is byna waardeloos met sy haelgeweer en ’n Musgrave-geweer wat saam R135 werd is.
Terre’Banche se bates is sowat R3,3 miljoen werd, maar sy laste beloop R348 940, wat ’n bruikbare boedel van R3 miljoen agterlaat.
Bron: Beeld.com
15 April 2011