
Die burgerregte-organisasie AfriForum het nou sy visier verskuif om die strafregtelike aanklagte teen KwaZulu-Natalse boer mnr. Garth Simpson (68) te laat teruggetrek. Dit volg op AfriForum se suksesvolle aansoek by die hooggeregshof in Pietermaritzburg op 1 Maart dat borgtog aan Simpson toegestaan word.
Dié boer het byna ses maande in die tronk deurgebring nadat hy in die Glencoe-landdroshof borgtog geweier is.
Simpson word aangekla van moord op Qiniso Dlamini (17) op 28 September 2021 en die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Simpson het na bewering beeste wat onwettig op sy plaas in die distrik Glencoe gewei het, in ’n kraal gejaag en die plaaslike polisie daarvan in kennis gestel. Voordat die polisie opgedaag het, het Dlamini probeer om die beeste uit die kraal te kry. Dlamini en Simpson het na bewering handgemeen geraak. In die worsteling om Simpson se vuurwapen het ’n skoot afgegaan en Dlamini is noodlottig gewond.
Nadat Simpson in hegtenis geneem en in die Glencoe-landdroshof borgtog geweier is, het AfriForum aangekondig dat hy die boer sal verteenwoordig in sy appèl teen die weiering van borgtog en ook in die strafsaak teen hom.In ’n verklaring op 1 Maart sê AfriForum hy meen Simpson het uit noodweer opgetree en dat hy borgtog geweier is weens politieke inmenging in die saak.
Mnr. Jacques Broodryk, veldtogbestuurder van AfriForum, sê in die verklaring howe moet besluite neem gegrond op regsbeginsels en nie politiek nie. “Die feit dat ’n lewe verloor is tydens die voorval is tragies, maar hoe die saak tot dusver hanteer is, is ’n growwe onreg wat reggestel moet word.”
Regter Poyo Dlwati het in haar uitspraak om die weiering van borgtog aan Simpson om te keer, gesê daar was “onjuisthede” in die laerhof se beslissing.
Me. Monique Taute, AfriForum se hoof van veldtogte, het Dinsdag aan Landbouweekblad gesê Simpson se verhoor is gister in die Glencoe-landdroshof hervat. Die regspan wat AfriForum aan Simpson verskaf het, se versoek dat die saak tot 25 April uitgestel word, is toegestaan.
Sy sê die verhoor is uitgestel sodat die regspan vertoë kan rig tot die nasionale vervolgingsgesag dat die klagte teen Simpson teruggetrek moet word.