Geld wat vir ‘n landboufonds geoormerk was, gaan nou ook staatskas toe, danksy ingryping van die Tesourie, ná die skikking tussen Pioneer Foods en die Mededingingskommissie.
“ ’n Boete moet ‘n boete wees – nie ‘n beeldbou-oefening vir die betrokke maatskappy nie,” het adv. Jeremy Gauntlett namens die Tesourie, in dié saak (Dinsdag, 30 November) voor die Mededingingstribunaal gesê.
Die Tesourie het geappelleer teen die skikking waarvolgens slegs R250 miljoen aan die Fiskus oorbetaal sou word. Dié ooreenkoms het ‘n bedrag van R250 miljoen ingesluit, wat in ‘n agri-mededingendheidsfonds inbetaal sou word en deur die IDC - die voormalige Nywerheids-ontwikkelingskorporasie - bestuur sou word. Dit het ook R160 miljoen, waarmee Pioneer sy winsgrens oor ‘n bepaalde tyd moet laat daal, en R150 miljoen, wat vir werkskeppingsprojekte gebruik moet word, ingesluit.
Gauntlett het egter daarop gewys dat die kommissie nie by magte is om te besluit hoe om boetegeld te bestee nie. Gevolglik is die R250 miljoen wat vir die agri-mededingenheidsfonds geoormerk was, nou by die monetêre boete ingesluit om ‘n totale boete van R500 miljoen, betaalbaar aan die Tesourie, te vorm. Dié bedrag is gelykstaande aan 8,9% van Sasko Graan se jaarlikse omset.
Kommissie se mag beperk
“Die kommissie moet besef dat hy slegs die mag het wat die wet hom gee. Die onlangse Appèlhof uitspraak in die Woodlands-saak is ‘n goeie voorbeeld dat die kommissie se mag beperk is. Sonder beperkinge sal ons diktatorskap hê,” het Gauntlett gesê.
Die Tesourie was aanvanklik ook ongelukkig oor die wyse waarop die Kommissie en Pioneer op die regstellende bedrae (die reeds vermelde R160 miljoen en R150 miljoen) besluit het, maar het dié kwessies laat vaar toe die bykomende R250 miljoen ook vir die staatskas geoormerk is.
Die Tesourie, Mededingingskommissie en Departement van Ekonomiese ontwikkeling, waaronder die IDC val, het in ‘n gemeenskaplike persverklaring gesê dat daar nou eenstemmigheid oor die ooreenkoms is. Daarvolgens sal die Departement van Ekonomiese ontwikkeling ‘n begrotingsvoorstel en motivering vir die skep van ‘n R250 miljoen Landbou-mededingendheidsfonds, wat deur die IDC bestuur sal word, by die Tesourie inhandig.
Die Tesourie het op sy beurt onderneem om dié voorstelle aan die Minister van Finansies se portefeuljekomitee oor die begroting te oorhandig vir oorweging en goedkeuring.
1 Desember 2010