
Die AgriSEB en die Regering se leningsprogram vir swart boere, Mafisa, het op die harde manier geleer dat as hulle hul geld nie betyds en reg bestee nie, die Tesourie dit sal terugvat.
Die Tesourie het onderskeidelik meer as R228 miljoen en R136 miljoen van dié twee programme van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye weggeneem om te keer dat roekelose besteding voorkom. Die Land Bank administreer dié geld.
Die Tesourie het die Land Bank in 2008 onder sy vlerk geneem nadat hy in die moeilikheid beland het. 'n Forensiese oudit het onder meer bevind dat die bank lenings buite sy mandaat toegestaan het.
Mnr. Lofentse Radikeledi, direkteur vir ontwikkelingsfinansiering vir instellings by die Departement van Finansies, het gesê die Land Bank is een van die instellings wat deur die Tesourie versoek is om ongebruikte geld terug te betaal wat vir langer as 'n jaar in hul rekening lê.
In Oktober is 'n brief aan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gestuur om die Land Bank te versoek om die AgriSEB- en Mafisa-geld terug te betaal. Die rede hiervoor, het Radikeledi gesê, is omdat die bank die Tesourie ingelig het dat die departement die geld wou aanwend vir 'n doel waarvoor dit nie toegestaan was nie. Boonop het die geld vir AgriSEB reeds vyf jaar dormant gelê.
“Ons het n verantwoordelikheid om die fiskus te beskerm. Wanneer ons besef geld lê vir 'n lang tydperk ongebruik by 'n departement of instelling, herroep ons dit. Indien dit daar gelos word, dan word die geld gebruik vir ander doeleindes.”
Die bank se fasiliteit vir opkomende kleinhandelsmarkte het al 365 boere gefinansier.
Mnr. Mohammed Kabir Sizwe, hoof van opkomende kleinhandelsmarkte by Land Bank, het gesê deur dié inisiatief het 415 boere mentorskap gekry en 1 498 het opleiding ondergaan. Die waarde van die bates van die boere wat deur die program gefinansier was, het met R213 miljoen toegeneem en die omset van die plase het met R100 miljoen verhoog. Sizwe het egter gesê dat hoewel die bank die program wil laat groei om meer boere te help, sukkel hy met die nodige befondsing om die program uit te brei.