
Die naam Theuns Botha is welbekend in landboukringe: Hy het 'n noue band met Landbouweekblad en van sy artikels en foto’s is talle kere in Suid-Afrika en internasionaal bekroon. Maar dié solo-uitstalling van 40 van Botha se pragfoto’s in die Zhukovsky Staatsmuseum in Zhukov, naby Moskou, is dalk die kersie op die koek! (Klik op die fotogalery hieronder om van die foto’s te sien.)
Theuns vertel hy het tydens die internasionale sitrusberaad wat in Februarie die Baai gehou is, mnr. Mikhail Fateev, Sitrus Internasionaal se verteenwoordiger in Rusland ontmoet. (Dié Rus is volgens Theuns dol oor Suid-Afrika en het al saam met Melissa van der Spuy ’n CD uitgereik. Hy is ’n komponis en groot kultuurmens.)
Toe Botha vroeër vanjaar ’n prys in 'n kompetisie van die Internasionale Federasie vir Landboujoernaliste (IFAJ) gewen het, het hy die wenfoto met Fateev gedeel. Dit is toe dat dinge gebeur, sê Botha.
Suid-Afrika se diversiteit
Fateev het hom gevra om ’n verskeidenheid foto’s wat die diversiteit van Suid-Afrika uitbeeld, aan die kurator van die Zhukovsky Staatsmuseum te stuur. Van die 100 wat hy vir oorweging gestuur het, is 40 gekies wat nou op die solo-uitstalling is.
Botha sê wat hom verras het, is dat hulle ’n hele paar foto’s gekies het wat ook kommersiële boere en hul vroue op plase in Suid-Afrika uitbeeld. “Gedurende my korrespondensie met hulle het ek agtergekom hoeveel gemeenskaplikheid daar tussen die ‘landelike Russe’ en ons stoere boere is. Dié dae toe nog met osse geploeg is en lánk voor dié dae dat “ ’n rooi gevaar agter elke bos geskuil het,” lag Botha.
Die verklaring van die museum wat saam met die uitstalling uitgereik is, lui dat “die landskappe, wild, kultuur en samelewing van Suid-Afrika kan nou gesien word sonder om die Kaluga-streek te verlaat.
Russiese vriende kies foto's
“Die uiteensetting sluit werke in wat die skrywer die afgelope paar jaar gedoen het vir Landbouweekblad. Altesaam 40 foto’s is deur Russiese vriende vir die uitstalling gekies, spesifiek vir die Kaluga-uitstalling. Dit is toegewy aan die 25ste herdenking van die diplomatieke betrekkinge tussen Rusland en Suid-Afrika.”
Die verklaring lui dat Botha doelbewus nie byskrifte vir sy foto’s ingestuur het nie: Russe moet 'n onbevooroordeelde mening oor Suid-Afrika daaruit kon vorm.
“Volgens mnr. Henry Short, die gevolmagtigde minister van die Suid-Afrikaanse ambassade in Rusland, is Russe en Afrikane meer soortgelyk as wat ons gedink het of gedink het.”
Wil bande met SA versterk
By die opening van die uitstalling en nadat hy die foto’s gesien het, het die Kaluga-streek se minister van kultuur en toerisme, mnr. Pavel Suslov, aangebied om Russies-Suid-Afrikaanse bande te versterk.
Botha se uitstalling is van 19 tot 31 Julie in die museum te sien en sal volgens die organiseerders daarna ook na ander kunsgalerye in Rusland verskuif.