
Nege ander verdagtes, onder meer voormalige werknemers van die ontwikkelingsfinansieringsorganisasie Akwandze Agricultural Finance, is reeds in April vanjaar in hegtenis geneem. Akwandze Agricultural Finance het namens RCL Foods die produksiekrediet aan suikerrietkwekers verskaf wat suikerriet aan RCL Foods lewer.
Yolanda Nontsikelelo Nkambule (48) het vandeesweek in die landdroshof op Malelane verskyn nadat sy deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad op Nelspruit in hegtenis geneem is. Sy het luidens die klagstaat R2,45 miljoen in haar persoonlike bankrekening ontvang. Sy word van bedrog en geldwassery aangekla.
Sy het in die hof verskyn saam met die nege ander beskuldigdes, Mduduzi Nkambule (43), Bongani Justice Mabilane (45) Desire Mzara (43). Ronald Chihwehwete (42), Yashiel Singh (37), Thato Kgapola (34), Kenneth Nkambule (45), Onkie Thabethe (34), en Phephisa Mkhabela (33) wat reeds in April 2022 in hegtenis geneem is.
Volgens kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, is geld aan die verdagtes toevertrou om boere te help met onder meer finansiering en die diens van masjinerie en besproeiingstelsels. Daar is egter in Desember 2020 bevind dat die beskuldigdes vermoedelik vals fakture ter waarde van R28 miljoen aan RCL Foods en Akwandze uitgereik het vir dienste wat nooit gelewer is nie. Die saak is toe by die Valke aangemeld en ondersoek.