
Wildbedryf SA moet sy huis in orde kry. Dit is die duidelike boodskap van mnr. Norman Adami, wat aan die stuur van die organisasie se bedryfsontwikkelingskamer staan.
Hy het by die Wildbedryf SA-kongres gesê strategieë om wildboerdery se stempel op die landbou- en biodiversiteit ekonomieë af te druk moet dringend geïmplementeer word en dat daadwerklik werk aan die organisasie en die wildbedryf se beeld nodig is.
Daarom het WRSA nou 'n tienpuntplan waardeur hy sy visie vir 'n nuwe golf van groei en welvaart, tot die voordeel van alle Suid-Afrikaners, wil bereik deur die unieke voordele van die wildbedryf optimaal te benut.
Wat die tien punte behels
Die tien punte behels onder meer markontwikkeling en die skep van 'n sterker vraag na wild en wildprodukte. "Anders as ander landboukommoditeite is ons in die wildbedryf nie eenvoudig prysnemers wat net op vraag en aanbod van 'n kommoditeit konsentreer nie. Ons taak is meer kompleks. Ons moet ook konsentreer om die vraag te ontwikkel terwyl ons die verskaffingskant se produktiwiteit bestuur."
Adami sê die bedryf moet pro-aktief wees om dikwels saam met die Regering markgeleenthede aan te gryp en om groei te stimuleer.
Handel in renosterhoring
Nóg 'n belangrike strategie in die tienpuntplan is om handel in renosterhoring gewettig te kry. "Hoewel nie almal in die wildbedryf met renosters boer nie sal die wettiging van handel in renosterhoring die speelveld vir almal in die bedryf verander. Daarom is dit 'n fokus op sy eie. As ek die nuutste voorstel van die Minister van Omgewingsake in die Staatskoerant reg lees, lyk sake belowend. Ek dink ons Regering besef die enigste manier om die renoster te red is volhoubare benutting."
Adami gee egter toe dat die aftakeling van die wildbedryf se beeld, veral in die media, WRSA tot nadeel strek in die openbare debat rondom kwessies, soos handel in renosterhoring, etiese jag en hulpbronbenutting. Daarom is die uitbou van WRSA se reputasie, sy geloofwaardigheid en beter openbare betrekkinge ook as fokuspunt in die nuwe strategie gelys en onlangs 'n maatskappy aangestel om te help om die organisasie se beeld in die openbare oog te poets. "Ons wil ophou om reaktief om publisiteit te reageer en die dialoog rondom hulpbron benutting in 'n pro-aktiewe manier dryf."
Transformasie in bedryf
Een van die belangrikste punte van die plan is die transformasie van die bedryf. "Ons is onder geen illusie oor die uitdagings wat grondhervorming en restitusie bied nie, maar ek wil julle ook verseker dat die Regering ons potensiële rol in die bevordering van ekonomiese groei en die bereik van sy ekonomiese doelwitte erken en die biodiversiteit ekonomie word in die nasionale groeiplan erken en daar word baie daaroor gepraat op regeringsvlak."
Adami sê WRSA glo wildboere kan 'n sleutelrol in Suid-Afrika se grondhervorming en transformasieproses speel.
Ander punte op van die plan fokus op groei in ledegetalle, betrokkenheid en tevredenheid, eenheid in die bedryf as geheel, wetgewing, navorsing en die uitbou van kapasiteit binne die WRSA-struktuur.