Mnr. John Varty, bekende omgewingsbewaarder, is deur ’n tier op sy tierplaas buite Philippolis aangeval, berig Volksblad.
Varty is ’n kenner in die rehabilitasie van onder meer tiere, jagluiperds, luiperds en leeus. Hy bestuur al sowat tien jaar lank ’n tierprojek op sy plaas Tiger Canyons.
Hy is opgeneem in die Bloemfontein Mediclini waar hy volgens mev. Amanda Appelgryn, woordvoerder, deur dr. Jan Louis Ras vir sy wonde behandel is.
Volgens Tiger Canyons se webwerf het Varty verskeie bytwonde en twee gebreekte ribbes opgedoen. Hy het ’n operasie vir sy wonde ondergaan en sal vir ’n paar dae in die hoësorgeenheid bly tot sy dokters met sy vordering tevrede is.
Varty se broer Dave het aan Volksblad gesê dat sy broer besig was om tiere te verfilm toe die dier hom aangeval en begin verskeur het. Hy is besig met die verfilming van The Tiger Man’s Jorney, ’n televisiereeks oor Varty en sy tiere.
Bron: Volksblad
29 Maart 2012