’n Internasionale groep wat in beleggingsnavorsing en kommunikasie spesialiseer, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, as die beste minister van landbou in Afrika aangewys.
Die toekenning deur die Africa Investor (AI) kom terwyl ’n donker wolk oor haar kop hang oor luukse hotelverblyf van sowat R1,6 miljoen. Die openbare beskermer ondersoek die verblyfkwessie.
Joemat-Pettersson het met die ministers van Mosambiek, Tanzanië, Kenia, Rwanda, Uganda en Ghana om die toekenning meegeding.
Harde werk
Joemat-Pettersson het by die tweeweeklikse kabinetsinligtingsessie gesê sy voel geeërd, want die toekenning erken die harde werk wat sy en haar departement in die landbousektor op internasionale en plaaslike vlak ingeploeg het.
Sy het bygevoeg dat hierdie toekenning ’n bewys is van die goeie werk wat hulle doen. Sy het onderneem dat hulle sal voortgaan om die landbousektor op die vasteland onder die aandag van die wêreld te bring.
Joemat-Pettersson het ook ’n lys bekend gemaak van vergaderings wat sy bygewoon het, en ooreenkomste wat in belang van die landbou en haar ander portefeuljes onderteken is.
24 November 2011