
“Redelikheid het geseëvier. Ons dien ’n groot God, en ons baie dank aan hom verskuldig.”
Dit was van die gedagtes wat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Donderdag (28 Junie 2012) met dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, gedeel het ná ’n besluit oor grondhervorming op die ANC se beleidskongres in Midrand geneem is.
De Jager sê die inligting wat aan hulle meegedeel is, het aangedui dat onteiening sonder vergoeding “ferm van die tafel gevee is.” Verder is besluit dat die Grondwet nié verander sal word om grondhervorming te bespoedig nie. Die minister, wat die voorsitter van die kommissie was, was glo effe benoud oor watter besluite geneem kón word.
De Jager sê die landbou haal nou dieper asem oor die kwessie, “maar ’n mens kan ook nie te gerus wees voor die resolusie op die party se kongres in Mangaung in Desember aanvaar en ingestem word nie.”
President en ministers
Pres. Jacob Zuma, mnr. Kgalema Motlanthe, sy adjunk, en mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, het ook die goeie nuus met De Jager en mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, gedeel. Motlanthe het gesê dat boere asseblief hul goeie werk moet voortsit.
Nkwinti het die landbou versoek om beleggers terug te lok na Suid-Afrika. “Hy ’t gesê, ons het nou ons deel gedoen, nou moet julle jul deel doen en die beleggers begin terugkry,” sê De Jager. “Ek het aan hom gesê dit gaan nie so maklik wees nie. Kapitaal is soos ’n koedoe, as hy eers geskrik het, staan hy vir ’n lang tyd en kyk voor hy weer ’n kans waag.”
Groenskrif
Volgens De Jager beteken die besluite oor hervorming nié dat die groenskrif oor grondhervorming van die tafel is nie. Dié dokument is in die onderhandelinge gebruik.
Wat die beleid oor ’n vrywillige koper en ’n vrywillige verkoper betref, sê De Jager dit wil voorkom of ’n “Babelse verwarring” tans daaroor bestaan, want hy het ’n wye verskeidenheid van verskillende antwoorde uit verskillende oorde ontvang.
“Die volume daarop is wel afgedraai, want in Polokwane is besluit dit moet geskrap word, terwyl Zuma in sy openingstoespraak op dié kongres gesê het dit moet heroorweeg word.”
Die party sal Vrydag (29 Junie 2012) op die laaste dag van die kongres meer terugvoering oor die besprekingsbesluite gee.