’n Vergadering met ’n Sweedse wapenmaatskappy,Saab, se base was deel van me. Tina Joemat-Pettersson se besoek aan Swede.
Joemat-Pettersson se reis- en verblyfkoste is weer deur die DA bevraagteken nadat sy nie volledige inligting oor haar besoek aan dié land verskaf het nie.
Landbouverwant
Landbouweekblad het egter vasgestel dat sy wel in Desember 2009 verskeie landbouverwante vergaderings en ook een met mnr. Kjell Möller, uitvoerende onderpresident van die Sweedse wapenmaatskappy Saab gehad het.
Pres. Jacob Zuma het reeds ’n kommissie van ondersoek aangestel wat die land se multi-miljardrand-wapentransaksie moet ondersoek.
Dit is die tweede keer dat Joemat-Pettersson se uitgawes bevraagteken word.
In ’n parlementêre antwoord oor oorsese reise word aangedui dat sy van 20 Desember tot 22 Desember 2009 na Swede was.
Die reis wat vlugkoste en verblyf ingesluit het, het net meer as R58 000 gekos. Mnr. Lourie Bosman, DA-LP, het uitgewys dat die reis na Swede nie in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se 2009/’10-jaarverslag voorkom nie.
Amptelike reis
Dit het vrae laat ontstaan of dit werklik ’n amptelike reis was, omdat Joemat-Pettersson ’n woonstel en ’n huis in Swede het. Dit kom nadat die DA haar by die Openbare Beskermer aangegee het oor luukse hotelverblyf van sowat R1,6 miljoen in Kaapstad en Pretoria. ’n Amptenaar het glo verkeerde inliging oor die verblyf aan die Parlement verskaf.
Mnr. Selby Bokaba, haar woordvoerder, het uitgewys dat daar niks verdag is omtrent haar besoek twee jaar gelede aan Swede nie. Sy het met haar Sweedse ampsgenoot, mnr. Eskil Erlandsson en met mnr. Kjell Möller op Maandag 21 Desember 2009 vergader.
Op Dinsdag 22 Desember het sy met die Sweedse adjunk eerste minister, die minister van energie en ook dié van buitelandse sake vergader.
15 November 2011