Tina Joemat-Pettersson is ‘n “drama queen” wat nét drama vir boere veroorsaak, en sy moet bedank.
Hierdie woorde is tydens die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye se begrotingsdebat deur die opposisie na haar geslinger.
Mnr. Pieter Groenewald, LP van die VFPlus, het Joemat-Pettersson toe sy drie jaar gelede as minister aangestel het ’n “vars briesie” genoem en nou noem hy haar ‘n “drama queen”. Hy het gesê die Regering wil graag voedselsekerheid hê, maar hy hoor nie dat die minister aan boere sekerheid gee oor hul eiendomme en veiligheid nie.
Wat doen sy oor plaasmoorde?
“Wat doen u as minister om met u kollegas in die polisie te praat oor plaasmoorde, sodat ons boere veilig kan wees op hulle plase. Wat doen u as minister om met die minister oor grondsake te praat, sodat boere sekerheid kan hê oor hulle eiendom?” het hy gevra.
Terwyl mense in die galery in die Parlement opruiend geraak het, het Groenewald voortgestoom dat die landbou ‘n wetenskap is waar jy die kennis moet hê om dit te doen. “U het ‘n onbevoegde direkteur-generaal (Langa Zita) aangestel want u stel meer belang in politieke kader-ontplooiing as kundigheid om die werk van die landbou te doen.
“U gaan na boere toe en wil praat oor modes. Aan die begin het ek gesê u kan dalk die reënkoningin vir boere wees. Verlede jaar het ek u “Tina promises” genoem want u maak net beloftes ná beloftes. “Boere wag nou nog vir hulle vloedskade-gelde.”
'Leier van party in Regering'
Joemat-Pettersson, wat blyk nie veel geraak was deur sy stellings nie, het geantwoord dat Groenewald optree asof die leier van sy party nie deel is van die department nie. “Jy sê dus jou eie party misluk, die leier van jou party is deel van die regering.”
Mnr. Pieter van Dalen, DA-LP, en Joemat-Pettersson het mekaar ook gepak. Iemand in die gallery het aan Landbouweekblad getwiet dat dit soos ‘n “viskafee hier binne klink.”
Van Dalen het aangevoer dat mense in die landelike gemeenskappe vertroue in haar verloor het en dat sy moet bedank. Dit het Joemat-Pettersson die josie in gemaak. Sy het hom aangevat oor die beweerde skiet van twee swart kinders en mense in die galery aangemoedig om dit te google. Sy het ook gesê dat hy altyd deel van stories en bewerings is en hom bedank dat hy “ ’n wiki-leaks” is.
Wat soos ‘n seer oog uitgestaan het, is dat die uitgesproke ANC-LP, mnr. Salam Abram, nie ‘n spreekbeurt gekry het nie.
4 Mei 2012