Mielieboere is “ongelooflik belangrik” vir die land en vir voedselsekerheid, sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Die minister het dié opmerking tydens die stigting van die Aksieforum (Delivery Forum) in Pretoria gemaak.
Die minister sê nadat ’n oorskot mielies verlede jaar geproduseer is, en die staat en bedryf mielies begin uitvoer het, was daar ’n “skielike besef dat mielieboere ongelooflik belangrik vir die land is. Dit is ’n krities belangrike sektor, ’n sektor wat ook belangrik is vir voedselsekerheid.”
As gevolg van dié besef het die minister onderneem om saam met Graan SA en ander behanghebbendes later die maand met ’n groot koper van mielies te vergader om ’n prys vir plaaslike mielies te beding en om te vra dat die koper sy invoer afskaal.
Die minister vra ook boere se hulp rakende die 20 000 ha mielieskema in die Umtata-omgewing, waarna pres. Jacob Zuma in sy Staatsrede verwys het. Sy sê hulle wil graag sien dat kommersiële boere kleinboere ondersteun. “Maar ons wil kontrakte onderteken, ons wil nie langer sake aan toeval oorlaat nie.”
Heinings en veeartse
Vergaderings word tans op presidentsvlak gehou om landsgrense en heinings, vir veiligheid asook die beskerming van die land se diere teen siektes, te bespreek.
“Ons het die verantwoordelikheid van die onderhoud van ons grensheinings aan toeval oorgelaat, en ons boere blootgestel aan die elemente van die natuur,” aldus Joemat-Pettersson.
Volgens die minister is dit die staat se verantwoordelikheid om boere en diere te beskerm. Derhalwe sal ’n projek vir die oprigting en onderhoud van heinings, as deel van infrastruktuurontwikkeling, onderneem word.
Joemat-Pettersson sê die belangrikheid van veeartsenydienste in die land kan nie onderskat word nie. Sy sê ’n opname van “misplaasde vaardighede” dui aan dat sowat 90% van die land se veeartse in praktyke werk waar hulle nie ten volle benut word nie. Die gebrek aan veeartsenydienste op die platteland is volgens die minister ’n kwessie wat in die kollig is.
16 Maart 2012