Vennootskappe tussen wit en swart ondernemings is die enigste manier om ongelykhede te herstel, sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Sy het verlede week dié raad vir swart sake-ondernemings in Johannesburg gehad en hul aangemoedig om deur middel van vennootskappe geleenthede in die landbou te ontgin.
“In my opinie is die grootste uitdaging in die land nou vennootskappe tussen swart en wit sake-ondermings. En vir so lank as wat ek die eer en voorreg het om die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye te wees, sal ek vennootskappe een van my grootste prioriteite maak,” aldus Joemat-Pettersson. “Die toekoms van die landbou, bosbou en visserye, die toekoms van voedselsekerheid en die skep van rykdom lê in dié vennootskappe.”
AgriBEE-handves
Joemat-Pettersson het die afgevaardigdes aangemoedig om haar departement dop te hou, veral ten opsigte van die landbousektor se AgriBEE-handves.
Joemat-Pettersson sê dié handves en veranderinge sal aan swart ondernemings geleenthede bied om deel te word van reeds gevestigde kommersiële ondernemings. Sy sê die Regering kan egter net ‘n raamwerk skep waarbinne dié vennootskappe kan ontwikkel. “Wat julle as swart sakemanne, as sakemanne, moet doen is om wit vennote, wat dieselfde as julle dink, en wat swart vennote nodig het om dié raamwerk tot hulle voordeel aan te wend, te vind.”
“Kom ons bêre vir eens en vir altyd die gedagte dat die toekoms van die land of swart sonder wit of wit geïsoleer van swart is. Wit ondernemings kan nie vir te lank oorleef as dit swart ondernemings uitsluit nie, maar swart ondernemings moet ook besef dat om vinniger sukses te behaal, hulle van die vaardighede en ervaring van wit ondermenings gebruik moet maak,” verduidelik Joemat-Pettersson.
5 Maart 2012