
Goudgeel T-hemde wat met belastinggeld laat druk is om ‘n ANC-veldtog ‘n hupstoot te gee, is nóg ‘n beweerde ongerymdheid wat voor die deur van me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gelê word.
In ‘n parlementêre antwoord dui sy aan dat haar departement verlede jaar meer as R180 000 tussen September and November op openbare vergaderings in Wupperthal en Clanwilliam bestee het.
Mnr. Pieter van Dalen, die DA se adjunkwoordvoerder vir landbou, bosbou en visserye, meen egter dat die geld bestee is op ANC T-hemde wat aan voornemende kiesers uitgedeel is.
Mnr. Rams Mabote, Joemat-Pettersson se spesiale adviseur, sê egter dat hierdie vergaderings deel van die Regering se program vir openbare deelname en uitreike na gemeenskappe was. Die minister was die hoofspreker en die geld is op ‘n klanktoestel, kos en die T-hemde bestee, sê hy.
‘Deur saam te werk’
Die departement het sy openbare vergaderings in die weke voor die geskeduleerde tussenverkiesings van 7 September en 9 November gehou. Volgens Van Dalen is altesaam 1000 T-hemde met die ANC-slagspreuk, “Deur saam te werk kan ons beter gemeenskappe deur visserye bou”, aan inwoners uitgedeel.
“Hierdie is duidelike misbruik van openbare geld vir politiekeparty doeleindes.”
Hierdie kwessie sal ook nou soos twee ander kwessies wat die DA al geopper het, aan die Openbare Beskermer vir ondersoek gestuur word.
Mabote erken dat die T-hemde inderdaad eiergeel was met die slagspreuk en die gesig van pres. Jacob Zuma daarop. “Dit is ‘n volslae leuen dat hierdie ANC t-hemde was. Van Dalen moet dit bewys en nie ongegronde bewerings maak nie.”
Hy het gesê die ministerie kan nie verantwoordelik gehou word vir Van Dalen se afkeer in “helder geel” T-hemde nie en die verband wat hy tussen die kleur van die T-hemde en die kleure van die ANC maak nie.
30 Mei 2012