Mnr. Pieter van Dalen, DA-LP, het me. Tina Joemat-Pettersson so omgekrap dat sy geweier het om die Kaapstadse Persklub in sy teenwoordigheid toe te spreek.
Van Dalen en Joemat-Pettersson het mekaar by die voorlegging van die landboubegroting Donderdag (3 Mei 2012) in die Parlement luidkeels gepak.
Van Dalen het voorgehou dat Joemat-Pettersson onbevoeg is en dat sy moet bedank.
Joemat-Pettersson het die galery aangemoedig om ’n voorval waarin Van Dalen na bewering betrokke was by die skiet van twee swart kinders, na te vors.
Bekgeveg
Voor haar aankoms by die Kaapstadse Persklub waar sy lede sou toespreek, het ’n bekgeveg tussen Joemat-Pettersson se adviseur, mnr. Rams Mabote, en mnr. Donwald Pressly, die persklub se voorsitter, ontstaan.
Mabote het beweer dat daar gelieg is oor die mense wat sy sou toespreek. “Hierdie plek is ’n persklub, wat maak die DA hier? Julle het gesê sy gaan die pers toespreek.” Hy het laat blyk dat daar ’n soort sameswering tussen Van Dalen en die persklub is om die minister in ’n hoek te dryf.
Pressly het daarop gewys dat Van Dalen, as lid van die persklub, die reg het om die praatjie by te woon. Die klub se grondwet dui aan dat enigeen wat die klub se doelwitte nastreef, daartoe kan behoort. Pressly was egter genoop om Van Dalen te vra om die loop.
Vasberade
So vasberade was Joemat-Pettersson om nie ’n vertrek met Van Dalen te deel nie, dat haar motorbestuurder selfs die perseel van die klub verlaat het. Eers toe Van Dalen met sy bakkie wegry, het sy weer teruggekom.
Joemat-Pettersson het aan die klub gesê sy was onder die indruk dat sy na ’n persklub genooi is om die pers toe te spreek en nie politici nie en daarom wou sy nie praat terwyl Van Dalen daar is nie.
Sy het gesê as sy genooi word om politici toe te spreek, dan sit sy haar politieke hoed op en spreek die gehoor as ’n lid van die ANC se Nasionale Werkkomitee toe. Sy het benadruk dat sy nie bang is vir kritiek nie en dit verwelkom.
Van Dalen het gesê Joemat-Pettersson se optrede was onaanvaarbaar en dit wys op die minagting van die basiese beginsels waarop die land se demokrasie gegrond is.
“Die minister het toegelaat dat haar persoonlike gevoel inmeng met haar vermoë om haar werk te verrig.”
Verbasend
Pressly het luidens ’n verklaring gesê dat dit verbasend is dat ‘’n verkose politikus en dienaar van die hele kieserskorps nie haar man kan staan teen indringende vrae uit enige oord nie.
“Miskien is dit ’n saak waar die antwoorde eerder potensieel vernederend kan wees as die vrae,” het Pressly gesê.
Mnr. Yusuf Abrahamjee, voorsitter van die Nasionale Persklub, meen die persklub moes nie toegelaat het dat sy praat nie. “Dit getuig van verwaandheid en hierdie nonsies moet stop. Sommige politici dink hulle is beter as ander.”
Abrahamjee meen dit is geheel en al minagtend vir iemand in haar posisie om ’n openbare platform, soos die Kaapstadse Persklub, vir goedkoop politiekery te gebruik.
4 Mei 2012