
“Wêreldwyd groei die vraag na Suid-Afrikaanse produkte. Ek kan nie voorbly met die navrae uit byvoorbeeld Mexiko en Saoedi-Arabië nie. Suid-Afrika se landboubedryf presteer internasionaal goed,” sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Die minister het in ’n onderhoud met Landbou.com gesê dinge gaan goed in die landboubedryf. Die eerbewyse wat sy ontvang vir die goeie vordering wat die bedryf toon, ontvang sy namens die bedryf. “Dit is om die totale bedryf te vereer vir dit wat vermag word.”
Ridder
Joemat-Pettersson se Franse eweknie, mnr. Bruno le Maire, het haar onlangs tot ridder geslaan. Die Chevalier de l’Ordre du Mérite Agricole is aan haar toegeken vir die aantal werksgeleenthede wat in die laaste twee kwartale van 2011 en die eerste kwartaal van 2012 in die bedryf geskep is. Sy sê in dié tyd is daar 56 000 werksgeleenthede geskep, terwyl die bedryf in 2009 en 2010 onderskeidelik 200 000 en 250 000 werksgeleenthede verloor het.
Sy sê sy is opgewonde om te sien dat boere hul bedrywe na ander Afrikalande, soos die Kongo, uitbrei. Sy sê die land beleef nie tans ’n eksodus van boere nie, want die meeste boere behou hul plaaslike boerderye en brei hul bedrywighede na ander lande uit. “Ek sal begin bekommerd raak wanneer hul families begin oppak en sak en pak na ander lande verhuis.
“Maar solank ons braaivleis en rugby het, meen ek die boere sal hier wil bly,” merk sy laggend op.
Grondhervorming
Wat grondhervorming betref, sê sy op die ANC se beleidskongres was dit baie duidelik dat die party nie ’n “blatante benadering” tot grondhervorming goedkeur nie. “Die ANC het dit duidelik gemaak dat hy hom tot die Grondwet verbind. Ons is ook verbind tot regverdige en billike grondherverdeling.”
Joemat-Petersson het op die kongres bekend gemaak dat die voorstel van onteiening sonder vergoeding van die tafel gevee is. Finale besluite oor die land se grondhervormingsbeleid sal op die party se verkiesingskongres in Desember in Mangaung geneem word.