
Die weë van die Departement van Bosbou en Visserye aan die een kant en dié van Landbou moet geskei word en nie saam in een departement gegroepeer wees nie, meen me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Sy het op Agri SA se kongres op Mulldersdrift gesê sy sal dié standpunt tydens die ANC se beleidskonferensie stel, wat later vanjaar in Mangaung (Vrystaat), plaasvind.
"Landbou en Grondhervorming moet weer onder een departement val, want daar is té veel ooreenkomste tussen dié twee departemente," sê Joemat-Pettersson. "Ek weet julle gaan nie daarvan hou nie."
Skei Visserye, Bosbou van Landbou
Sy glo ook dat Visserye en Bosbou nie onder dié sambreel moet val nie en eerder van Landbou geskei moet word. Joemat-Pettersson sê sy sal daarvan hou as Agri SA sy insette in dié verband lewer, maar selfs al sou die organisasie haar afraai om aan te beveel dat Landbou en Grondhervorming onder dieselfde departement te rangskik, sal sy steeds haar standpunt oor Visserye en Bosbou maak.
Joemat-Pettersson het Agri SA, die media en talle ander rolspelers oor hul kritiek teenoor haar gekritiseer. Sy het Agri SA vermaan, omdat sy meen die organisasie predik eensgesindheid aan die een kant en aan die ander kant sê hulle haar sleg op openbare platforms.
Sy het die media onder andere daarvan beskuldig dat hulle nie akkuraat verslag lewer nie en dat hul haar pogings om korrupsie aan die kaak te stel, belemmer.
Sy het die gehoor ingelig dat sy 'n baie druk program het en bygevoeg dat sy nie die gesag het om 'n provinsiale LUR voor stok te kry nie.
Kongresgangers het teruggekap
Talle kongresgangers het na Joemat-Pettersson teruggekap. Mnr. Salam Abram, ANC-LP, sê sy beklee 'n magtige posisie en dat sy die vermoë het om die landbou vir die beste te verander. " 'n Parlementslid behoort 'n dienskneg van die man op straat te wees. As dít te onsmaaklik is vir 'n persoon, hoort hy of sy dalk nie in die Parlement nie."
Abram het ook die werking van Joemat-Pettersson se departement gekritiseer. " 'n Departement kan nie werk as dit in een jaar ses direkteur-generaals gehad het nie. Ons staan nou op die sesde een."
Abram sê hy het begrip vir boere wat sukkel om amptenary te spreek. Selfs hy kon nie vir mnr. Langa Zita, voormalige DG, sover kry om na dokumente te kyk nie. "En ek sit in die Parlement. Die feit van die saak is dit - ons het 'n DG nodig wat beide passie en kennis oor die landbou het. As politiek en ras nie uit die landbou gehaal word nie gaan ons nêrens kom nie."