Die inkomste wat landboutrusts uit regeringsheffings kry, word tot voordeel van kommersiële boere gebruik, sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye. Daarom is ingryping nodig, meen sy.
Joemat-Pettersson het vroeër vanjaar in die Parlement aangedui dat die hersiening van die 13 trusts vanjaar voorrang sal geniet. Daar sal bepaal word of die trusts, met gesamentlik sowat R2 miljard in hul koffers, nog ’n doel dien.
Die trusts kry regeringsheffings en gebruik 20% daarvan vir transformasie. Joemat-Pettersson het aan Landbouweekblad gesê sy wil gelyke geleenthede vir alle boere bewerkstellig.
Volgens haar dien die heffings tans “net die bevoorregte mense”. “Die bevoorregtes glo omdat hulle die heffings betaal, moet hulle die begunstigdes daarvan wees.
Heffings is ’n vorm van belasting. ’n Mens kan nie belasting betaal en dan self besluit wat daarmee gedoen moet word nie.”
Heffings
Sy het gesê heffings word in die openbare sektor aangewend om voorheen benadeelde mense op te hef, maar in die landbou “word die kleinste persentasie van die inkomste verkry uit heffings gebruik om kleinboere te ontwikkel”.
“Die Regering versoek die bedryf wetlik om heffings te betaal. Ons bepaal wat die heffing is.” Joemat-Pettersson het gesê meganismes moet geskep word om kleinboere te ontwikkel.
“Indien die sektor deur middel van die trusts oneweredige toewysings het om die bedryf te ontwikkel en dit so oneweredig is dat dit in die guns van die kommersiële wit sektor is, dan moet ek ingryp.” Woordvoerders van die trusts het aangedui hulle sal die verpoeling van die trustgeld teenstaan.
18 Mei 2012