’n Hofaansoek is ingedien om vas te stel wie in die taakspan dien wat hidrobreking moet ondersoek, sê die Treasure the Karoo-aksiegroep (TKAG).
Luidens ’n verklaring is hierdie die eerste regstappe wat gedoen word sedert die oliereus Shell verlede jaar aangedui het dat hy vir skaliegas in die Karoo wil prospekteer.
Die groep het Maandag (24 Oktober 2011) ’n aansoek by die Noord-Gautengse hof ingedien. Volgens die dokument het die groep geen ander keuse as om hom na die hof te wend nie ná verskeie versoeke aan die Departement van Minerale gerig is om inligting oor die taakspan bekend te maak.
Die aansoek is op die wet oor toegang tot inligting gegrond.
Invloed
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die TKAG, sê die besluit om hidrobreking in die land toe te laat of te weier, gaan internasionaal geskiedkundig wees.
“Dit is ’n ingewikkelde evaluasie en die publiek van Suid-Afrika het ’n absolute reg om behoorlik ingelig te word oor die opdrag, aktiwiteite en kundigheid van dié wat besluite neem oor ’n saak van nasionale belang.”
Die hofaansoek dui in detail aan hoeveel kere die groep die departement en minister al om inligting genader het, en hoe hul versoeke op dowe ore geval het.
26 Oktober 2011