Dit blyk dat 33 plaasmoorde in die afgelope boekjaar voorgekom het, volgens statistiek van die TLU SA.
Die organisasie sê hy is steeds bitter ontevrede dat die staat nie meer plaasmoorde apart van ander moorde aanteken nie.
Die organisasie sê hulle is wel bewus daarvan dat die plaasmoordsyfer waarskynlik hoër is. Volgens sy statistiek is dit ongeveer 86 per 100 000 van die boeregemeenskap. “Dit is dus steeds skrikwekkend hoog,” lui ’n verklaring.
Die moordsyfer van 15 940 vir die tydperk van April 2010 tot Maart 2011 wat mnr. Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie, Donderdag (8 September 2011) aangekondig het, verteenwoordig volgens die TLU SA sowat 44 moorde per dag. “Dit is skreiend hoog as dit aan die wêreldgemiddelde gemeet moet word, en is selfs hoër as die sterftesyfer in die meeste oorlogsgebiede.”
Lof vir die polisie
Die organisasie sê enige verlaging in misdaadsyfers moet verwelkom word, derhalwe deel hulle ook die algemene optimisme oor die laer misdaadstatistiek.
Intussen sê mnr. Andre Botha, die voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, hy wil in die eerste plek die departement en die polisie gelukwens met die dalings wat aangeteken is.
“Terselfdertyd wil ons hulde bring aan dié polisielede wat tydens die uitvoering van hulle pligte gesterf het,” het Botha gesê. Hy beskryf Mthethwa as ’n visionêre leier, en sê hulle is trots om met hom geassosieer te word.
Gemeenskap
Mthethwa het in sy toespraak opgemerk dat verskeie polisiekantore in landelike gebiede uitdagings ondervind met betrekking tot die grootte van die areas wat hulle moet bedien.
Botha sê om dié las te verlig en in belang van almal in die gemeenskap, is dit nodig dat gemeenskappe gemotiveer moet word om saam met die polisie te werk om misdadigers aan die kaak te stel, “sodat gate vir kriminele toegemaak kan word”.
9 September 2011