
Die staat moet besef kommersiële boere is sy grootste bate om die ekonomie op dreef te kry, sê die TLU SA. Mnr. Bennie van Zyl, hoof uitvoerende beampte, sê die waarde van boere in die platteland, om daar bestendigheid te bewerkstellig en dorpe te help om ekonomies te gedy, word nie na behore erken nie.
Van Zyl was een van die sprekers op ’n konferensie oor grondhervorming deur die Ad Hoc-komitee vir eiendomsreg in Pretoria aangebied is. “Geen boer het sy grond gesteel nie en ons moet waak dat die oormatige gebombardeerdery met al die leuens wat so aanmekaar vertel word, nie ’n skuldgevoel laat ontwikkel nie. Die kommersiële boere kan en moet trots wees op wat in hierdie land vermag is.”
Beperking van swart boere
Intussen sê dr. Anthea Jeffrey, ’n spesiale navorsingskonsultant vir die Instituut vir Rasseverhoudinge, die Konsepwet op Verblyfreg van 2010 en die groenskrif oor grondhervorming se fokus is nie om ’n nuwe onafhanklike geslag swart boere wat grond besit, op te bou nie. “Pleks daarvan sal begunstigdes van grondhervorming tot huurpag beperk wees, terwyl kommunale grondbesit in voormalige tuislande behou sal word.”
Jeffrey sê dié twee wette sal tot grondnasionalisering lei. Sy sê ’n “big-bang”-benadering sal nie gebruik word nie, maar die staat sal geleidelik meer en meer grond in sy besit hê, wat ander afhanklik van hom sal maak.
Jeffrey sê die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR), waarop dit sedert 1994 fokus, doen die land skade aan. Sy sê daar is egter faktore wat dié benadeling teenwerk, soos die Grondwet.
31 Mei 2012