Die landboubedryf is heftig gekritiseer oor die sowat 60% van die land se water wat die sektor gebruik.
Luidens ’n berig in Die Burger het me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, Dinsdag (17 April 2012) in die Parlement gesê die bedryf se gebruik van water, wat dikwels op toekomstige ontwikkeling gegrond is, “gaan haar verstand te bowe.”
Sy sê die toegekende water aan die landbou word nie ten volle gebruik nie, terwyl behuisingsontwikkelings weens ’n gebrek aan water afgekeur word. Sy het die Parlement ingelig dat sowat 24% van die land se water deur verbruikers in stedelike gebiede gebruik word, terwyl “net sowat 3%” na huishoudings in landelike gebiede gaan.
Munisipaliteite
Die minister sê munisipaliteite kan nie behuisingsontwikkelings goedkeur nie, want hulle het nie ekstra water vir sulke projekte nie.
“Ons vra dan aan die landboumense om asseblief vir ons die mense of erwe te wys aan wie die water toegeken is. Hul reaksie hierop is bloot dat hulle beoog vir ontwikkeling wat in die toekoms gaan plaasvind, nuwe boere wat die sektor gaan betree, ensovoorts. Dit beteken ’n tasbare ontwikkeling kan nie gebeur nie, want daar is te veel water elders toegeken. Dit gaan my verstand te bowe.”
Volgens die minister kan die situasie nie so voortgaan nie.
Watergehalte
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, sê die Minister se redenasie gaan ook sy “verstand te bowe”.
“Die probleem lê nie by die landbou se gebruik van water nie, dit lê by die feit dat munisipaliteite nie behoorlik voorsiening maak en vooruitbeplan vir die aanbou van nuwe infrastruktuur nie!”
Meintjes sê die feite maak nie vir hom sin nie, want volgens Rand Water (wat aan ’n groot deel van Gauteng en Noordwes water verskaf) benut slegs 2% van sý watervoorraad vir huishoudelike gebruik.’n Groot deel van die res van dié water word byvoorbeeld by rioolwerke gebruik. Dít is dan besoedel, en moet teen miljoene rande weer gesuiwer word.
“Die probleem is nie die landbou nie. ’n Totale paradigmaskuif oor water en beplanning moet plaasvind,” aldus Meintjes. “En wat van gholflandgoedere wat miljoene liters water onttrek – hoekom word hulle nie ook oor hul watergebruik aangespreek nie?”
Voedselsekerheid
As die minister besluit om die landbou se watergebruik in te perk, sal dit ernstige gevolge vir voedselproduksie inhou, sê Meintjes. “Jy kan nie water by die landbou wegvat nie. Waar moet mense dan kos vandaan kry?”
Hy sê die minister sal meer baat vind daarby om te verseker dat die water wat wel gebruik word, van ’n hoë gehalte is, sodat dit gedrink en vir voedselproduksie gebruik kan word.
Die minister het die versekering gegee dat water nie weggevat sal word van enigiemand wat ’n opregte watergebruiker is nie.
Bron: Die Burger
18 April 2012