
Die aanstelling van mnr. Senzeni Zokwana maak die TLU SA bekommerd, sê dié organisasie se voorsitter, mnr. Louis Meintjes. “Hy is ’n voormalige voorsitter van die vakbond NUM, en was ook nasionale voorsitter die SA Kommuniste Party.
Meintjes het kommentaar gelewer oor die aansgtelling van die nuwe Minister van Landbou, mnr. Senzeni Zokwana, en sy adjunk, genl. Bheki Cele.
“Wêreldwyd het die kommunisme nét rampspoed en ellende vir die landbou beteken, en pres. Jacob Zuma het met hierdie aanstelling die tafel gedek vir soortgelyke rampspoed. Die adjunkminister, die voormalige polisiekommissaris Bheki Cele, wek ook geen vertroue nie. In sy tyd as kommissaris kon die TLU SA nie daarin slaag om hom te spreek oor landelike veiligheid en plaasmoorde nie, waardeur hy hom destyds reeds as ongevoelig teenoor die landbou getoon het.”
“Om ’n kommunistiese vakbondman aan te stel as minister, beteken dat sy simpatie by alles gaan wees behalwe die belang van die landbouers wat ten spyte van alles, steeds positief meer as hulle bydrae lewer tot voedselsekerheid en landelike stabiliteit.
"Ons is bevrees dat die landbouer en die georganiseerde landbou steeds minder sal kan reken op ondersteuning van die Regering, wat ’n droewige tydperk vir die bedryf en vir Suid-Afrika inlui. Natuurlik sien ons daarna uit om verkeerd bewys te word,” sê Meintjes.