
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het in ’n webinaar gesê terwyl boere tot dusver die beweegruimte gehad het om SEB-vereistes te ignoreer, word transformasie nou na ’n volgende vlak gevoer.
Volgens mnr. Jannie Raath, TLU SA se streekbestuurder vir Noordwes en die Vrystaat, het SEB-vereistes voorheen ondernemings geraak wat met die staat wou sake doen. Die klem skuif egter nou na die private sektor en is gemik op ondernemings wat nie andersins met die staat sou sake doen nie.
“Om self minder prys te gee aan beheer en bestuur, wentel die groter markdeelnemers transformasie af na mense laer af in die waardeketting, aangesien sektorkodes nou op die hele sektor van toepassing is en nie meer slegs op ’n individuele besigheid nie,” het Raath gesê.
“Indien jy nie aan die transformasiekodes voldoen nie, kan die sektor jou nie meer bekostig nie. Jy kos hulle dan waardevolle punte aan transformasie, wat maak dat hulle naderhand nie meer met jou gaan besigheid doen nie.
“Dit is ’n vorm van horisontale uitbreiding (van transformasie). Dit het ’n uitwerking op elke boerdery, boer en individuele sake-onderneming wat voorheen nie met die staat sou sake doen nie.”
Van Zyl het sy kommer gelug oor die raad vir uitvoer van bederfbare produkte (PPECB) se onlangse versoek dat boere bemagtigingsertifikate indien. Hy het gesê die woordkeuses in die PPECB se verklaring ter verduideliking hiervan, soos dat boere “nog nie” benadeel word nie, laat gevaarligte flikker.
Reguleerders wie se hoofdoel was om verbruikers rakende gehalte en prys te beskerm, word volgens TLU SA nou gebruik om SEB-sektorkodes af te dwing.
Raath het gesê individue en sake-ondernemings word gevra om verklarings af te lê, gegrond op rasklassifisikasie, van hoe ’n onderneming se bestuur, eienaarskap en werknemers lyk.
’n Vereiste om só ’n verklaring in te vul, kan volgens hom uit verskillende oorde na boere kom. Dit terwyl daar geen wetgewing of regulasie bestaan wat as riglyn vir die klassifikasie kan dien nie.
TLU SA stel voor dat elke boer of boerdery-onderneming regsadvies oor sy individuele omstandighede verkry, maar ook dat boere vier punte onderaan enige eedsverklaring voeg wat hulle oor SEB-voldoening sou aflê.
Die punte, wat op die organisasie se webblad verkry kan word, lui onder meer dat die verklaring afgelê word sonder benadeling van regte en dat die persoon “nie gekwalifiseer is om enige mediese of ander bepaling te maak nie oor die ras of etnisiteit van enige persoon verbind met sy onderneming, insluitend homself”. Dit lui ook dat die persoon beswaar maak teen statutêre rasklassifikasie en diskriminasie, en dat die verklaring onder protes ingedien word.
Mnr. Melcus Nel, kenner van SEB en direkteur van die Signa-groep, het by navraag gesê boere moet hulself deeglik vergewis van die vereistes van die Agri SEB-kode, soos dat boerderye met ’n omset van minder as R10 miljoen per jaar, kragtens die kode, outomaties gemiddelde vlak 4-erkenning vir SEB kry.
Hy sê ook daar is vereistes wat selfs kleiner boere kan nakom sonder dat hulle byvoorbeeld swart besit in hul ondernemings moet hê. “Voordat enige strategie in werking gestel word, moet die belangrikste rede vir SEB eers in elke boer se omgewing bepaal word.”