Solank die Regering nie met die TLU SA oor landbousake wil praat nie, stel dié organisasie nie belang in die gesprekke agter geslote deure met die ANC nie.
In ‘n verklaring sê die TLU SA hy het kennis geneem van die ANC-leierskap se poging om met Afrikaanse groepe in gesprek te tree oor maniere om Afrikaanses nader aan die ANC te kry, terwyl TLU SA homself meer verbind voel tot die Afrikaner-groepering en die waardes wat hul voorstaan.
“Vir ’n geruime tyd probeer die TLU SA met regeringsleiers in gesprek tree oor sake wat die landbou in Suid-Afrika raak. Die unie poog om met die land se President daaroor in gesprek te tree, en daar word gepoog om afsprake te bekom met die Ministers van Waterwese, Vervoer en Polisie, asook met die Kommissaris van Polisie. Hierdie gesprekke het ten doel om knelpunte te hanteer wat boere ondervind.
“Ons pogings tot hierdie soort gesprekke was tot dusver vrugteloos, en lei noodwendig daartoe dat daar ’n gevoel by die georganiseerde landbou ontstaan dat die Regering geen gevoel vir landbouers en hulle probleme het nie. As daar vervreemding ontstaan het, is dit te danke aan die ANC self, en moet hy sy rol as verantwoordelike regering begin nakom. Dit sal die eerste stap wees vir die herstel van vertroue,” sê die TLU SA-voorsitter, mnr. Louis Meintjes.
“Solank die Regering nie met ons wil praat oor landbousake nie, stel ons nie werklik belang in gesprekke agter geslote deure met ander ANC-rolspelers nie. Daardeur sal ons net ons eie mense van ons vervreem. Die TLU SA se primêre doel is om op te staan vir sy lede en die landbougemeenskap in die algemeen,” sê Meintjes.
8 Mei 2012