
Die president, mnr. Jacob Zuma, behoort eerder te fokus op oplossings vir plaasmoorde, in plaas daarvan om emosionele uitbarstings te laat uitvoer deur sy diplomatieke personeel.
Die TLU SA se assistent-hoofbestuurder: Kommunikasie, mnr. Henk van de Graaf, het teruggekeer van 'n besoek aan Genève waar hy die kwessie van plaasmoorde gaan voorlê het aan die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee se Forum vir Minderheidsake.
“As pres. Jacob Zuma en sy regering sy plig sou gedoen het soos die Grondwet dit van hom vereis, deur onder andere die boere te beskerm teen fisiese uitwissing, sou ons nie nodig gehad het om die wêreld se aandag op hierdie situasie te gaan vestig nie,” sê Van de Graaf, nadat hy en die bestuur van die TLU SA deeglik besin het oor veral die optrede van me. Tsholofelo Tsheole by dieselfde beraad.
“Zuma sal moet verduidelik of hy en sy ANC-regering hulleself wil verbind tot die oplossing van plaasmoorde, en daardeur 'n eerste stap wil gee na verantwoordelike regering, en of hy verkies om, soos sy gesant gedoen het, met die ‘struggle’ voort te gaan deur feite met emosionele uitbarstings te beantwoord. Daarmee het hy Suid-Afrika in die oë van die internasionale gemeenskap behoorlik belaglik gemaak.
“Die gesant se aanbeveling aan die VN dat dié strenger keuring moet toepas op minderheidsinstansies wat daar verteenwoordig het, is nie net ‘n klap in die gesig van Suid-Afrikaanse minderhede nie, maar ook minderhede van ander wêrelddele. Dit beklemtoon ook dat die Zuma-regering in wese net lippediens aan minderhede betuig, en dat hy nie ernstig is om ook die grondwetlike regte wat aan minderhede toegeken is, werklik te laat toepas nie,” sê Van de Graaf.
Die TLU SA se hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl, sê totdat Zuma en sy regering hul plig teenoor die landbougemeenskap gaan nakom, sal die TLU SA voortgaan met hierdie soort internasionale bewusmakingsaksies.