
Volgens mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, is hulle teleurgesteld in pres. Jacob Zuma se staatsrede, wat gister (13 Februarie) gelewer is.
“Hy beweer dit gaan so goed in die land, maar die burgery beleef dit heeltemal anders,” het Meintjes in ’n persverklaring gesê. “Anders sou daar nie soveel gewelddadige stakings gewees het nie.”
Hy het gesê Zuma het kommersiële landbou nie vermeld nie, maar wel ’n byna weglaatbare projek van ’n aantal opkomende boere.
Meintjes meen terwyl mynbou baie aandag geniet het, is die landbou afgeskeep. Mynbou is tans die grootste bedreiging vir landbougrond en besoedel hulpbronne.
Omdat grondeise heropen gaan word, gaan onsekerheid in die landbou voortduur. Meintjes het gesê heelwat produktiewe landbougrond wat oorgedra is, het tot niet gegaan.
Vrae oor misdaad
Verder bevraagteken die TLU SA die stelling dat misdaad vanaf 2002 met 21% afgeneem het. Hy meen syfers vir plaasaanvalle en –moorde in 2002 verskil nie noemenswaardig met dié in 2013 nie.
Die verhoogde slaagsyfer van matrikulante is ook rede tot kommer, omdat die slaagvereistes afwaarts aangepas is en dus lei tot ’n groot slaagsyfer met minder kennis.