Die TLU SA het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, voorlopige ramphulp van R1,82 miljard gevra vir skade aangerig deur die onlangse vloede.
Dit volg na sy vroeër die week landbou-organisasies gevra het om teen verlede Vrydag (28 Januarie) syfers rondom vloedskade in die landbou aan haar te verskaf.
Mnr. Henk van de Graaf, woordvoerder vir die organisasie, sê dié bedrag is na verwagting slegs sowat 30% van die werklike skade dek.
“Hierdie is net die punt van die ysberg, en in praktyk het ons slegs twee dae gehad om inligting te versamel. Baie boere kon steeds nie in hulle lande in nie, en kon derhalwe nog nie hulle skade bepaal nie. Ons het dié feit ook aan die minister uitgewys in ons brief aan haar,” aldus Van de Graaf.
Vyf provinsies
Van de Graaf sê hulle het hul opname in vyf provinsies gedoen, die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. “Hierdie is nog net die skade aan infrastruktuur, nog geen verlies aan inkomste is in ag geneem nie.”
Die organisasie sê hulle verneem Agri SA se skadebepaling in die Vrystaat, Limpopo en die Oranjeriviergebied staan tans op R1,1 miljard.
Aanbevelings
Intussen sê Van de Graaf hulle het ook verskeie aanbevelings gemaak, waarvan ‘n noodramptaakspan – wat uit lede van die georganiseerde landbou en beamptes binne die departement saamgestel is – belangrik is.
Dié taakspan moet die vloedskade, asook reënskade, in baie provinsies noukeurig bepaal, en ondersoek wat die effek hiervan op die landbou, die ekonomie en korttermynvoedselsekerheid is.
Die taakspan moet ook vasstel hoe die situasie plaaswerkers gaan raak. Van de Graaf sê hulle het die minister ook versoek om die langdurige impak van die besoedelde water, wat nou in baie landerye ingespoel en moontlik in die grond neergeslaan het, te bepaal – veral ten opsigte van implikasies rakende produksie en voedselsekerheid.
“Ons het haar gevra om wanneer sy finansiële instellings vra vir grasie vir geaffekteerde boere om hulle skuld te betaal, ook boere wat onder reënskade deurgeloop het se saak te stel,” vertel Van de Graaf.
31 Januarie 2011