
Nie die nasionale demokratiese revolusie nie, maar ’n nuwe landbourevolusie sal stabiliteit in Suid-Afrika verseker, sê die TLU SA. Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die organisasie, het op die kongres gesê ’n eenvoudige (maar werkbare) plan om die landbou om te keer, is aan die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye voorgelê. Daarmee steek die TLU SA sy hand uit na die Regering en nuwe boere om saam te werk aan ’n volhoubare toekoms vir die sektor.
Die TLU SA sê daar moet op ’n nuwe manier na die landbou gekyk word. Hy sê die departement, kommersiële en nuwe boere, asook die landbouvoorsieningsketting, moet saam by die plan betrokke wees. Dit moet mark- en projek-gedrewe wees, met samewerking tussen kommersiële en nuwe boere in ’n formele koöperatiewe verhouding.
Nuwe landbourevolusie
Die plan behels onder meer:
• Navorsing oor die verskillende markte in die binne- en buiteland om te bepaal wat moet waar, wanneer en in watter hoeveelhede geproduseer word en projekbeplanning moet daarvolgens gedoen word.
• ’n Grondoudit moet bepaal watter grond is waar beskikbaar en wat daarop verbou kan word, met spesiale aandag aan grond om bestaande dorpe.
• ’n Wateroudit moet beskikbare water met die grond koppel. In dié verband kan munisipale waterwerke benutbare geleenthede bied.
• Infrastruktuur moet van so ’n aard wees dat produkte ongeskonde by bepaalde markte kan kom. Dit sluit ontwikkeling van verwerking, opberging, verspreiding en vervoer van produkte in.
• Die Regering moet projekte fianansier en ondersteun.