
Só het prof. Elmien du Plessis van die Noordwes-Universiteit se regsfakulteit onlangs op die jaarlikse kongres van Agri Noord-Kaap gesê in haar praatjie oor politieke invloed op wetgewing wat die landbou raak, en hoe konflik tussen amptenare en boere hanteer kan word.
“ ’n Mens mag kwaad word, maar jy kan maar toegee en in een uit elke vier konfliksituasies seëvier.
“Waaroor is boere bekommerd? Is dit oor wetgewing, grond, arbeid, skaliegas, water, Eskom, sprinkane, rampbestuurswet, biosekerheid of veiligheid? Is die probleem die gebrek aan wetgewing of die toepassing daarvan? Beïnvloed alle wetgewing die landboubedryf, of is dit net die politiek daarvan?
Konflik kan gesond wees
“Konflik as sodanig kan ook gesond wees omdat dit dikwels ’n geleentheid is om te hernuwe en beter te verstaan. Ongesonde konflik is wanneer opswepende, gewelddadige taal gebruik word. Wanneer daar van ons en hulle, en van goed en sleg gepraat word.”
Nog tekens van dié hoë konflik is mites, gerugte en samesweringsteorieë. Voorbeelde is dat mense nie grond soek nie, maar geld; die staat doen alles om die landbou onmoontlik te maak vir wit boere sodat hulle grond kan vat; wit mense het grond gesteel; wit mense kan teruggaan na Europa.
“Hoë konflik bestaan net in ’n omgewing van swak vertroue en wanneer konsensus oor feite moeilik is om te verkry. Dit is ’n teelaarde vir sekeres om vure te stook en te verdeel. Sonder vertroue is konsensus onmoontlik. Om uit ’n hoëkonfliksituasie te kom, verg nie ’n balans van magte nie. Nederigheid, buigsaamheid, openheid vir nuwe oplossings, nuuskierigheid, vraagstelling en die opsy skuif van aannames is oplossings vir konflik. Vir elke afbrekende interaksie het ’n mens vyf opbouende interaksies nodig vir ’n gesonde konflikbalans, soos om die ander kant se opbouende optrede te erken en simboliese toegewings te maak.”
Sy het gesê wanneer daar vertroue is, kan die middelgrond betree word en mense kan moeilike gesprekke voer. “Onthou, die staat is nie ’n monolitiese masjien nie, dis ’n groepering van mense.
“Kognitiewe sielkunde en neuro-wetenskappe wys dat mense menings eerder vorm gegrond op emosies soos vrees, minagting en woede as op feite. Dit word versterk deur sosiale groepe, en die media wat ’n mens kies om lees. Dit is teenproduktief om op die oorlogspad te gaan. Dit is harde werk om jou houding te verander en vereis dat jy ander se menings moet oorweeg en hul menswees erken.
“Ons demokrasie is verteenwoordigend en deelnemend. Openbare deelname is ’n skriftelike of mondelingse geleentheid waar mense voorleggings maak voordat wetgewing gepromulgeer word. Deelname beteken egter nie dat almal oor ’n saak ooreenkom nie, of dat besluitnemers alle insette moet inkorporeer nie. Die wetgewer het steeds die finale sê. Dit moet die totaliteit van opinies en deelnames wees wat beleid en wetgewing beïnvloed. Hoe meer konsensus daar ín die publiek is, hoe groter die impak op die wetgewing.
“Wanneer ons van die politieke invloed op wetgewing wat ekonomiese groei in die landbou kniehalter praat, wat skuil daaragter? Is dit vrees, hartseer of woede? ’n Benadering van hoed-in-die-hand om konfliksituasies op te los, bring jou die verste, hoewel dit voortdurende, harde werk verg.”