Deur die water van vier windpompe wat ver van mekaar staan, in een dam te konsentreer, het mnr. Petra van der Walt op die plaas Waaifontein by Springfontein op vernuftige en ekonomiese wyse voorsiening gemaak vir die besproeiing van sowat 10 morg (8,6 ha) vrugbare grond.
Die wyse waarop hierdie windpompbesproeiingskema beplan is, is vernuftig, die manier waarop dit gedoen is, oordeelkundig, en die hele onderneming is teen ’n verrassend lae koste uitgevoer.
Die gevolg is dat dit een van die mees ekonomiese besproeiingskemas is waaraan ’n mens kan dink. Met behulp van ’n sweistoestel waarmee hy handig kan werk, het Van der Walt eers vir hom ’n drietonsleepwa gemaak.