
Die toekoms van die Suid-Afrikaanse landboubedryf lyk goed, sê Agri SA. Die swakker rand en gunstige produksietoestande behoort die plaaslike landbou se uitvoer-vermoë ’n hupstoot te gee en met damme wat landswyd gemiddeld 80% vol is, lyk vooruitsigte vir besproeiingsboerdery ook gunstig. Verbruikers kan ook uitsien na ’n moontlike afname in voedselprysinflasie, veral weens die daling in brandstofpryse.
Voortgesette belegging in die landbou bly belangrik vir die handhawing van voedselsekerheid en in 2014 was daar ’n toename van 8.4% in die waarde van belegging in die landbou. Dit is gerugsteun deur ’n toename van 10.1% in die waarde van grond en verbeterings en ’n toename van 9.9% in dié van masjinerie, implemente en voertuie.
DuPont se verslag oor wêreldwye voedselsekerheid vir 2014 toon ook aan dat Suid-Afrika die Afrikaland met die hoogste vlak van voedselsekerheid is, sê Agri SA in ’n mediaverklaring. Die land vergelyk ook goed met sy Brics-vennote met 61.1 punte op DuPont se indeks. Indië behaal 43.3 punte, China 62.2 punte, Rusland 62.7 punte en Brasilië 68.1 punte. Die meerderheid van Afrikalande behaal tussen 30 en 40 punte op die indeks, met ontwikkelde nywerheidslande wat gewoonlik meer as 80 punte behaal.