
Kommer bestaan oor die toename in veediefstal wat in die boekjaar 2011/’12 jaar aangeteken is. Mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, sê tussen die boekjare 2010/’11 en 2011/’12 is ’n toename van 1,5% in veediefstal aangeteken.
Dít volg op ’n daling van 8,2% tussen die boekjare 2009/’10 en 2010/’11. “Die daling beteken dat ons ons benadering moet hersien, want ons mag nie toelaat dat dié effense toename ’n tendens word nie,” aldus Mthethwa.
Hoenderdiefstal
Mnr. Jaco Maré, voorsitter van die Nasionale Veediefstalforum, sê een van die redes vir die styging kan die toename in hoenderdiefstal wees. Hy het tydens die Rooivleisprodusente-organisasie se jaarkongres gesê die koste verbonde aan gesteelde diere is in die boekjaar 2010/’11 verhoog.
Beeste se waarde is verhoog tot R10 400 stuk, terwyl ’n skaap se gemiddelde waarde op R1 700 bepaal is. Bokke, donkies en perde se waarde is tot onderskeidelik R1 950, R650 en R3 500 stuk verhoog.
Verliese
Mnr. Pieter Groenewald, parlementêre verteenwoordiger vir die Vryheidsfront Plus, sê: “Boere kla dus met reg oor die ekonomiese verliese weens diefstal in die landboubedryf. Dit dui ook daarop dat veiligheid in landelike gebiede nie doeltreffend is nie.”
Intussen het Mthethwa opgemerk dat “toegewyde fokus nou aan die praktiese implementering van die Landelike Beveiligingstrategie gegee moet word.” Binne dié fokus word spesifiek ook aandag geskenk aan veediefstal, wat veral oor landsgrense heen plaasvind.