
WAARSKUWING: Die inhoud en foto's van die berig kan sommige lesers ontstel.
’n Melkboer in die distrik Dundee in die noorde van KwaZulu-Natal is woedend oor die toenemende wreedheid waarmee veediewe sy vee en dié van ander boere aanval. Mnr. Peter Durham van Glynton Jerseys het die afgelope maande verskeie voorvalle beleef waar veediewe tuisgemaakte spiese en pangas gebruik het om oënskynlik lukraak na beeste te steek en te kap.
By Durham is reeds agt verse geslag en nog agt is beseer.
Van hierdie diere word dan daar en dan vir hul vleis geslag. Ander word lewend agtergelaat met groot oop wonde of met spiese in hul liggame, terwyl die veediewe met die vleis wegkom.
Durham sê in WhatsApp-boodskappe dat hy, ’n naburige Holstein-melkboer, mnr. Stephen McKenzie, en ’n naburige vleisbeesboer, mnr. Damian Tiley, almal sulke voorvalle ervaar het. Wildboere in die distrik Dundee word ook geraak.
“Op ’n buurman, mnr. Chris Günther, se wildplaas het stropers vier elande in twee agtereenvolgende nagte binne die afgelope twee weke geslag. Hulle gebruik honde om hulle vas te keer en maak die elande dan met spiese dood.”
In die jongste sulke voorval op Durham se plaas het hy met sekuriteit se hulp twee vermeende veediewe in hegtenis geneem.
Erge trauma
Durham sê dat hierdie voorvalle nie net uiters wreed en pynlik was vir die betrokke diere nie, maar dat boere en hul werkers getraumatiseer is nadat hulle op die verminkte lewende diere en dié wat geslag is, afgekom het.
Boere kry duur veeartsrekeninge wanneer beseerde diere behandel word. ’n Plaas se winsgewendheid word ook nadelig beïnvloed deur die regstreekse verlies van geslagte diere en deur die onregstreekse verlies van die potensiële inkomste wat dié diere en hul nageslag sou kon genereer het.
Me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), sê sulke barbaarse gedrag deur veediewe kan nie geduld word nie en dat misdadigers tot verantwoording geroep moet word. Sulke dade soos ervaar deur Durham en ander boere in die distrik Dundee is lafhartig en onregverdigbaar.
“In ons ondervinding oor baie jare van misdade op plase het Kwanalu baie min voorvalle aangeteken waar diere vermink is. In die meeste gevalle was hierdie handelinge lukraak. ’n Patroon kon nie bepaal word wat ’n modus operandi aan hierdie voorvalle koppel nie. Ons moet teen bespiegeling waarsku en eerder die feite van elke voorval ondersoek en verseker dat die reg sy gang gaan.”
Misdade op plase neem toe
La Marque wys daarop dat misdade op plase in KwaZulu-Natal onbetwisbaar toeneem. Omstandighede wat tot hierdie misdade bydra, sluit in werkverliese en toenemende armoede as gevolg van die burgerlike onluste gedurende Julie 2021 en die algehele gemeenskaplik-ekonomiese onbestendigheid reg oor Suid-Afrika.
Sy sê die gebrek aan wet en orde vererger die toenemende landelike misdaad in die provinsie.
“Dit is opmerklik dat private sekuriteitsmaatskappye dikwels die leiding neem in misdaadondersoeke weens die polisie se onvermoë om hul werk te doen. Die gebrek aan handhawing van wet en orde, swak ondersoeke na sake en ander probleme by die polisie dwing gemeenskappe om alternatiewe te soek om misdaad te bekamp.”
Sy doen ’n beroep op Suid-Afrikaanse howe om veediewe en ander misdadigers swaarder strawwe op te lê.
Sy doen ook ’n beroep op KwaZulu-Natal se politieke leiers om verantwoordelikheid te aanvaar vir die provinsie se huidige toestand en om wet en orde te herstel, om beleggingsgeleenthede te skep en om maniere te soek om die landbousektor te ondersteun sodat werkskepping en ekonomiese bestendigheid bereik kan word.