
Plaaswerkers en landelike gemeenskappe is deel van die gehoor op wie deelnemers aan die Cancer.vice-motorfietstoer hulle gaan toespits op hul jaarlikse reis deur die land. Die geleentheid word aangebied deur die nie-regeringsorganisasie People Living With Cancer (PLWC).
Dié groep het verlede jaar sowat 2 400 kilometer tussen Johannesburg en Kaapstad afgelê. Vanjaar sal hulle van 22 tot 29 September deur Gauteng en Mpumalanga reis en onder meer in Soweto, Sabie, Nelspruit en Mantongomane stop.
Me. Roxy MacNaughton, woordvoerder vir die veldtog, sê die groep sal die sitrusboerdery Joubert & Seuns naby Machadadorp besoek. Inligtingsessies oor kanker sal in die gemeenskapsaal in Baberton, die Nasaret-gemeenskapsaal in Middelburg en die Greensidemyn-gemeenskapsaal in Witbank aangebied word.
25 Kankeroorlewendes
Die span op die motorfietse bestaan uit 50 mense van wie 25 reeds die stryd teen ’n vorm van kanker gewen het. Myra Maud, die Franse sangsensasie, en Lillian Dube en Janie du Plessis, wat kanker reeds getroef het, is ook deel van die span. John Sithole, bekende choreograaf, sal ook te sien wees.
Kanker raak miljoene Suid-Afrikaners, maar sowat 30% van alle kankers kan voorkom of behandel word mits dit betyds gediagnoseer word, maar People Living With Cancer sê inligting is die sleutel.
“Ons opvoedings- en bewusmakingsprogramme fokus op die vroeë diagnose en behandeling van alle kankers, maar spesifiek dié kankers waaroor mense huiwer om te praat weens kulturele of maatskaplike stigmas. Die sogenaamde skaam kankers sluit testikulêre, servikale, prostaat-, ovirale, bors- en kolorektale kanker in,” verduidelik me. Frieda Hennings, bedryfsbestuurder vir Cancer.vive. Sy sê dié kankers word dikwels nie betyds behandel nie weens ’n gebrek aan kennis, vrees of skaamte.
Besoek www.cancervive.co.za vir meer inligting.