
Bulle moet nou of binnekort vir geslagsiektes getoets word omdat die teelseisoen op die meeste plase nou einde se kant toe staan, waarsku veeartse.
Hulle neem met groot kommer kennis van verslae oor lae kalfpersentasies weens trigomonose en vibriose wat steeds ontvang word, sê die SA Veeartsenykundige Vereniging (SAVV) se groep vir veegesondheid en reproduksie in sy jongste maandverslag.
Nadat bulle getoets is, moet die nodige stappe gedoen word om kuddes weer siektevry te kry, en ’n beheerplan moet saam met jou plaaslike veearts beraam word, maan die groep.
Interne parasiete
Hulle het net in Januarie verslag van 13 gevalle van trigomonose en drie van vibriose ontvang. Heelwat haarwurm- en ander besmettings deur interne parasiete is ook ná die onlangse goeie reëns aangemeld. Die groep wys daarop dat heelwat verslae van parasietweerstand in die geval van sulke besmettings ontvang is.
Hulle doen ’n hernieude beroep op boere om hul plaaslike veeartse oor die vyfpunt-kontrolestelsel en die Famacha-stelsel te kontak, asook oor eiertellings in mismonsters, en om middels uit verskillende antelmintiese groepe teen hierdie parasiete te gebruik om die toenemende ontwikkeling van weerstand te keer.
Geen gevalle van slenkdalkoors of Wesselsbron-siekte is gelukkig nog tot einde Januarie aangemeld nie.
Meer inligting oor siektes en inenting-programme kan hier gevind word.