Die nuwe e-tolstelsel wat in Gauteng ingestel gaan word, kan die landbou tot R14 miljoen ekstra per jaar kos, sê Agri SA.
Mnr. Dawie Maree, senior ekonoom van Agri SA, sê hulle het verlede jaar bereken dat teen R2,90 per kilometer vir swaarvoertuie die groentebedryf se bykomende uitgawes tussen R6 miljoen en R8 miljoen sal wees.
Dít het op spesifiek die vervoer van aartappels, tamaties, kool, uie en piesangs – die vyf produkte met die grootste aanvraag – betrekking gehad. Dit was ook die bedrag wat aanvanklik vir geregistreerde swaarvoertuig-gebruikers met e-tolskyfies aangedui is. Dié bedrag is intussen effens verlaag.
Die huidige algemene berekening is gedoen met die totale koste in ag geneem, dus op die aanname dat ’n padgebruiker nie vir enige korting geregistreer sal wees nie.
Maree sê dit is skokkend om te sien dat ’n “alternatiewe gebruiker” – wat volgens Sanral nie vir enige stelsel geregistreer is nie – vir ’n swaarvoertuig by die Letata-tolpunt op die R21-pad ’n bedrag van R121, 80 moet betaal.
‘Hengse impak’
Dié bedrae gaan ’n “hengse impak” op die landboubedryf en ’n boer se inkomste hê, sê Maree. “En ons berekening is slegs op daardie vyf produkte gedoen, die impak gaan soveel groter wees as die totale spektrum van die landbou in ag geneem word.”
Maree sê hy vertrou dat die boere wat gereeld produkte na Gauteng moet vervoer ’n e-tolrekening sal registreer om koste te bespaar. ’n Swaarvoertuig wat ’n geregistreerde e-tolrekening het, sal R21,00 by die Letata-tolhek betaal.
Intussen berig Beeld die Demokratiese Alliansie verwys na mnr. S’bu Ndebele, Minister van Vervoer, as “onderduims” oor die bedrag wat ’n padgebruiker, wat nie vir ’n e-tolrekening geregistreer het nie, sal betaal. Sanral bepaal dat ’n gebruiker van ’n ligte voertuig wat nie geregistreer is nie, R1,75 per kilometer sal betaal.
Die Sanral-dokument van bedrae wat elke tipe padgebruiker sal betaal, wat op 13 April 2012 in die Staatskoerant gepubliseer is, is onder aan dié berig beskikbaar.
16 April 2012