Die nuwe tolstelsel wat in Junie die jaar in Gauteng in werking tree, gaan aartappelboere se vervoerkoste met R3,5 miljoen per jaar verhoog.
Mnr. Ernst Yzel, voorsitter van Aartappel SA, sê die tolkoste gaan boere wat hulle aartappels na die varsproduktemark vervoer, hard slaan. “Veral die boere van Limpopo gaan swaar deurloop.”
Yzel sê dié bedrag gaan suiwer vir die produsent se rekening wees. “Per rit lyk dit nie na baie geld nie, maar tel al die bietjies bymekaar en dit is ‘n groot klomp geld wat die produsent maar net moet absorbeer.”
‘n Aartappelboer moet tans R25 per 10kg sakkie aartappels kry om sy insetkoste te dek.
Groot invloed op mark
Volgens mnr. Pieter van Zyl, bestuurder van bedryfsinligting by die organisasie, sê die vier varsproduktemarkte in Gauteng hanteer sowat 55% van die land se totale aartappelaanbod. Dit beteken dat die tolgeld wat in die provinsie gehef gaan word, op die bedryf as ‘n geheel ‘n invloed gaan hê.
Yzel sê vir elke vrag aartappels gaan die tolstelselkoste vier keer gehef word. “Eers gaan vol vragte aartappels mark toe, dan loop ‘n leë vragmotor terug plaas toe. Van waar die aartappels afgelewer is, moet dit weer deur verskaffers opgelaai word en na die afsetpunte vervoer word, alles op dieselfde paaie.”
Verbruiker se sak?
Die tolstelsel gaan derhalwe vir die formele en informele aankoopsektor ook ‘n ekstra R1,5 miljoen beteken, en dit net om aartappels van varsproduktemarkte te vervoer, sê Yzel. Dié bedrag gaan vir die verbruiker se sak gaan.
Verder sê Van Zyl die informele sektor koop die helfte van alle aartappels wat op die markte te koop is, aan. “Hulle gaan dus R750 000 na hulle klante in die informele nedersettings deurgee as `n ‘prysverhoging’.”
Buiteland bevoordeel?
Intussen bestaan groot ontevredenheid omdat Sanpab die kontrak wat die tolstelsel gaan beheer, aan ‘n konsortuim toegeken het waarvan die meerderheidaandeelhouer ‘n Oostenrykse firma, Kapsch TrafficCom AG, is. Luidens ‘n verklaring sê die Vryheidsfront Plus dit is onaanvaarbaar as veral werkloosheid en armoede in Suid-Afrika in ag geneem word.
“Dit begin al hoe duideliker lyk dat die tolhekstelsel ontwerp is om die publiek te melk en die Regering en sekere korporatiewe belange alleen te dien. Die feit dat GijimaAST, die Suid-Afrikaanse firma wat voorheen in ‘n regsaak met die departement van binnelandse sake betrokke was, ook deel vorm van die konsortium, is ‘n verdere duidelike bewys dat sekere individue aanhou bevoordeel word ongeag hulle prestasierekord,” sê adv. Anton Alberts, woordvoerder vir die party.
22 Februarie 2011