Die tariewe van 66c/km wat vir die Gauteng-tolstelsel vasgestel is, is vir eers opgeskort - maar dit gaan steeds geïmplementeer word, sê mnr. Sibusiso Ndebele, die Minister van Vervoer.
Ndebele het dié aankondiging Dinsdag (22 Februarie) gemaak na ‘n vergadering met me. Nomvula Mokoyane, premier van Gauteng.
Luidens ‘n berig op Engineering News Daily gaan die tolstelsel steeds in Junie inskop, maar die vasstelling van die tarief – waaroor behoorlike konsultasie met die publiek sal plaasvind – sal oor die volgende drie maande moet plaasvind.
Finansieringsmodel?
‘n Paneel van kundiges, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap asook Ndebele en Mokoyane sal die finansieringsmodel wat vir die R20 miljard-padopgraderingstransaksie goedgekeur is, hersien.
Ndebele sê egter hy en die premier stem ooreen dat die tolstelsel steeds geïmplementeer moet word, en dat die Regering hulle verbintenis tot die betaling van die lening bevestig. “Ons sal met beleggers vergader om hulle op hoogte te hou en te verseker dat ons ten volle daartoe verbind is om die R20 miljard-lening te betaal,” aldus Ndebele.
Verwelkom
Die aankondiging is intussen wyd verwelkom. Adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront se woordvoerder, sê: “Hierdie stap is ‘n oorwinning vir die padgebruiker asook vir die oorbelaste belastingbetaler.”
Alberts beskryf die ANC se onlangse teenkanting teen die tolstelsel as oneerlik: “Die ANC se teenkanting teen die toltariewe het slegs gekom ná hewige publieke protes teen die tariewe. Daarom is die weerstand wat die premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, teen die tariewe bied bloot ‘n reaksie na aanleiding van die geweldige druk wat op haar regering toegepas word. Die druk moet nou verhoog word ten einde te sorg dat die uiteindelike tariewe by die VF Plus se voorgestelde 5c/km uitkom.”
Aartappel SA het vroeër vandeesweek bekend gemaak dat die voorgestelde tarief dié bedryf ‘n bykomende R3,5 miljoen per jaar sou kos.
23 Februarie 2011