Die komitee wat aangestel is om Gauteng se toltariewe te hersien, behoort teen April antwoorde daaroor te kan gee. Luidens ’n berig op Engineering News Daily sal die span volgende week met ’n reeks vergaderings met verskeie belanghebbendes begin.
Die komitee is aangestel ná hewige teenstand deur die publiek oor die voorgestelde tariefstruktuur wat op 66 c per km op die 185 km lange roete op die N1 in Gauteng van toepassing is.
Mnr. Sbu Ndebele, die Minister van Vervoer, het Dinsdag (8 Maart) die komiteelede se name bekend gemaak. Die publiek sal die kans gegun word om kommentaar aan die komitee te stuur, maar geen openbare verhore sal gehou word nie.
Kosmandjie van die land
Mnr. George Mahlalela, die direkteur-generaal van die Departement van Vervoer, is die voorsitter van die komitee. Hy moet teen die einde van April ’n verslag saamstel waarvolgens Ndebele ’n besluit oor die tariewe moet maak.
Die komitee het ’n reusetaak om te besluit watter toltarief die land in staat sal stel om die skuldlas vir die opgradering van infrastruktuur te vereffen sonder om reiskoste in Gauteng onrealisties hoog te maak.
“Gauteng is die sentrum van die land se ekonomie en ons kan dit nie wurg nie. Dit moet aanloklik wees om sake te doen in Gauteng,” aldus Ndebele.
Die landboubedryf
Intussen het verskeie landboubedrywe gesê die vorige toltariewe sou die bedryf baie seergemaak het. Die tariewe sou vervoerders se sakke hard geslaan het, wat dié koste na boere en die verbruiker sou deurgee.
Mnr. Nico Hawkins, ’n ekonoom van Graan SA, het gesê hulle keur enigiets af wat ’n invloed op vervoerkoste kan hê. Dr. Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodusente-organisasie, het opgemerk: “Die effek van die voorgestelde tolgeld op die melkbedryf gaan erg wees. Melk word van Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat vervoer na gebiede in Gauteng wat deur die tolgeld geraak word en dít kan die koste van melk met 10c tot 12c per liter beïnvloed”.
Bron: Engineering News
11 Maart 2011